So is die lewe…

Daar is opgekropte woede onder baie inwoners van hierdie land.

0
1391
The Bulletin Newspaper
Ds Marius Britz

Facebook en WatsApp kreun vandeesweek onder plasings ná die moord op ‘n boer van Klapmuts, naby Stellenbosch. ‘n Buurman wat die oorledene geken het, maak ‘n hartseer en emosionele video terwyl hy in sy bakkie sit, en vra dat almal hierdie Maandag swart moet dra om hulle teenkanting teen plaasmoorde te wys.
Hierdie video versprei soos ‘n veldbrand. Baie tuisgemaakte video’s word gemaak en geplaas as gevolg van hierdie een. ‘n Bekende Afrikaanse sanger knip bykans sy loopbaan kort toe hy in Engels verduidelik hoekom hy nie saamstem met die dra van swart klere nie. Andere van die video’s gee mens koue rillings. Een van hulle is deur ‘n bekende sakeman wat ‘n masjiengeweer en ‘n pistool langs hom het, terwyl hy versies uit die Bybel aanhaal, totaal uit konteks, om oorlog en wraak mee te regverdig. Daar is opgekropte woede onder baie inwoners van hierdie land. Oor baie sake. Korrupsie. Misdaad. Werkloosheid. Geweld. Swak dienslewering. So word Swart Maandag die simbool van woede. Die situasie in die land is hoogs plofbaar. Dit hang soos ‘n newel om my gemoed.
Somber, bekommerd, belemmerd deur al hierdie goed wat my slimfoon en gemoed besoedel, staan ek by die kettingwinkel in Langebaan se tou by die kasregister om te betaal. Voor my staan ‘n ou tannietjie met haar einde-van-die-maand-aankope: een rol toiletpapier, ‘n halwe brood, ‘n liter langlewe-melk. Ons praat oor die prys van kos. Sy sê vir my, plastieksakkie bronsmuntstukke in haar hand: Onse mense kry swaar, meneer. Toe, skielik, groet die opsigter by die kassiere iemand agter my wat ook in die ry staan, wat verjaar. En skielik begin sy sing: Happy birthday to you. En al die kassiere val in en sing saam. En die mense in die ry. En almal in die winkel glimlag en sing. En ek, ek begin huil. En die bruin tannietjie voor my ook. En die mense om ons. Ons omhels mekaar. Wit en swart en bruin en pienk en helderbont mense. Want ek weet meteens dat daar nog soveel goedheid en menslikheid is in hierdie wye en droewe land. Ten spyte van al die duister. En die oorgrote meerderheid van mense soek net vrede. En veiligheid. En ‘n rustige bestaan.
Toe ek uitstap, sien ek die spierwit strand. En die kobaltblou see. Alhoewel Dasseneiland en Schaapeneiland deur ‘n mislaag bedek is, weet ek dit sal netnou verdwyn. Dan sal dit ‘n helder, oop, dag weer wees. En ek besluit: ek gaan nie dat die huidige miswolke my uitsig op die meerderheid lieflike mense van hierdie reënboogland verberg nie. Daardie miswolke sal ook verdwyn. En Maandag dra ek swart vir Joubert en vir al die ander boere soos hy wat gesterf het in plaasmoorde. Ek dra swart vir die kind van die Kaapse Vlakte wat deur ‘n dwaalkoeël getref is agter op sy ma se rug. Ek dra swart vir nog ‘n dogtertjie wat gesterf het nadat sy ernstig deur haar stiefpa aangerand is. Vir ‘n kind wat in Soshanguve op die skoolgrond met ‘n mes gesteek word. Ek dra swart vir die kind wat met ‘n wapen skool toe gaan. Vir my oud-tuinier in eMbahlenhle wie se hele sinkhuis weggewaai het in die storm in Secunda. Vir die kind wat met geweld groot word. Wat dit dra in die letsels aan sy lyf… totdat hy niks meer voel nie. Ek dra swart vir die kind wat ‘n man word wat moor.
Maandag dra ek swart.

Deur Ds. Marius Britz

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here