Gemoedere vat vlam op mynvergadering

Dié beoogde myn word op landbougrond gebou en bestaan uit 480ha (ondergronds) en 68 ha bogrond waar ‘n totaal van 100 000 ton steenkool per maand, oor die verloop van 10 jaar, uitgehaal sal word.

0
557
The Bulletin Newspaper

Met die intrapslag op Donderdagaand se derde publieke vergadering van die beoogde Witfontein-steenkoolmyn, sowat 12 km vanaf Bethal, kon ‘n mens aanvoel hier broei moeilikheid.
Die geaffekteerdes, meestal boere, sakemanne en plaaswerkers is mooibroodjies gebak oor rehabilitasie en gepaai dat nóg ‘n oopgroef- en ondergrondse steenkoolmyn nie eintlik só groot uitwerking op hulle of die omgewing gaan hê nie. Dié beplande oopgroef-gedeelte is reeds na wat verneem word, met 67% verklein weens die negatiewe en lewensgevaarlike impakte wat dit op die omgewing en nabye inwoners sal hê. In die vergadering is 85% egter genoem.
Die plan:
Dié beoogde myn word op landbougrond gebou en bestaan uit 480ha (ondergronds) en 68 ha bogrond waar ‘n totaal van 100 000 ton steenkool per maand, oor die verloop van 10 jaar, uitgehaal sal word. Die steenkool word dan verwerk en gemaal op die perseel en dan per trok vervoer na ‘n sy-lyn wat by die treinspoor op plaas Holfontein beplan word. Die steenkool is vir plaaslike sowel as uitvoermarkte bestem.
Wie wil myn:
Littlesnipe (Pty) Ltd is die maatskappy wat aansoek gedoen het om dié myn te open en vorm deel van Canyon Coal maatskappye wat reeds sedert 2009 drie myne geopen het. Die myne is Hakhano (Middelburg, MP – 2009), Palanndwa (Delmas – Ten volle operasioneel sedert 2013) en Singani (Middelburg, MP – 2014). Witfontein-myn maak deel uit van vyf projekte wat hulle wil aanpak indien hulle die nodige lisensies bekom. Dié ander vier myne word beplan in Springs, Hendrina, Bronkhorstspruit en Vereeniging.
Voordele en nadele:
Die gemeenskap het eendragtig saamgestem dat die nadele die voordele só ver oorskry dat dit nie sin maak dat Littlesnipe dit nog oorweeg om met hul planne voort te gaan nie. Daar word gevrees dat rehabilitasie op ‘n ramp gaan afstuur, veral wat die water betref.
Water:
“Die grondwater sal minimaal geaffekteer word gedurende die konstruksie-tydperk van sowat 2 jaar en sal eers gedurende operasie geaffekteer word wanneer die grondwatertafel deurdring word. Watervlakke in sekere boorgate kan tot 69m sak,” het Shelly Seton- Rogers, ‘n omgewingswetenskaplike van EXM gesê. “Hoewel die myn in die somer met ‘n surplus water bedryf sal word, sal hierdie surplus in die winter opgebruik word en sal bykomende water benodig word. Die gemiddelde watertekort bereken volgens die gemiddelde reënval-toestande, word geraam op 470 m3/dag. Dié watertekort sal na verwagting mettertyd verminder namate die mynbou vorder.” EXM is deur Littlesnipe aangestel as die onafhanklike omgewingsimpakpraktisyns.
Die byna R5.4mil wat geallokkeer is vir waterrehabilitasie, wat omgekeerde osmose insluit, is een van die syfers wat die vergaderinggangers glo is uit die duim gesuig. Net soos hulle glo oor die statistieke van die padverkeer.
Verkeersdruk:
Volgens EXM is daar tans 36 voertuie per dag op die D450-roete na Bethal se rigting, terwyl die syfer volgens inwoners in werklikheid veel hoër is. As die myn gebeur, gaan dié grondpad ‘n totaal van 280 voertuie per dag dra, een elke 2.6 minute (voertuie sluit privaat voertuie ook in). Die trokke beweeg tussen 6 uur soggens en 10 uur saans en oornag saans op die myn. Sekuriteit en plaasveiligheid raak ‘n ernstige kwessie vir inwoners wie se huise reg oorkant die oopgroef gedeelte is, veral as dit beteken dat die trokke in die pad kan begin toustaan as hulle wag om te laai en presies die doen en late van dié inwoners kan bepaal.
Die trokke is ook ‘n groot probleem vir die pad wat tans nie eers breed genoeg is vir twee trokke om veilig verby mekaar te beweeg nie. Daar word egter beplan om die pad te verbreed na 10m. Inwoners is bekommerd oor klippe wat opspat en wie die skade aan hul voertuie gaan betaal. “As myntrokke privaat voertuie beskadig, moet dit aan die myn self gerapporteer word en hulle sal ondersoek instel. Die myn sal moontlik versekering hê wat skade deur sulke insidente dek,” het EXM gesê. Die pad kan problematies vir Littlesnipe word, wie se navorsing nie mis in die oggend, trekkers en kinders van ‘n plaasskool se veiligheid in ag geneem het nie.
Fauna en flora:
n Vervoerband tot by Bethal is nie ‘n opsie nie omdat impak op vleilande te groot sal wees. Inwoners wou weet waarom vleilande se veiligheid bó die van mense gestel word waarop Divan van der Merwe, Direkteur van MSc Environmental Management gesê het: “As ‘n vleiland eers weg is, is hy vir altyd weg.
As mense betrokke is kan jy nog altyd ‘n ander voorkomende plan bedink.” Niemand op die vergadering was baie beïndruk met dié stelling nie.
Daar is ‘n groot verskeidenheid dierelewe in dié omgewing waaronder duikers, tarentale, ystervarke, tierboskatte, uile en verskeie dier –en voëlspesies. Daar is ook twee beskermde plantspesies. “Geen beskermde diere is waargeneem nie, maar hulle mag dalk daar voorkom en die beskermde plantspesies sal beskerm word,” volgens EXE
Lugsoedeling:
Lugbesoedeling is nog ‘n kopseer. Een van die redes hoekom die oopgroef geskuif en verklein is, is omdat die toelaatbare vlakke van PM10 en PM2.5 oorskry sou word. EXM is egter seker dat met hul nuwe plan vir die oopgroef-myn, dit nie ‘n probleem sal wees nie
Geraas:
EXM het ook verseker dat geraas nie ‘n probleem sal wees nie en dat die geraas op plaas Vaalkop, wat regoor die oopgroef en aangrensend van die mynskag is, gedurende mynaktiwiteite nié 45 decibels sal oorskry nie, maar dié soet beloftes klink onmoontlik.
Rehabilitasie:
Daar is R8 982 848.30 opsy gesit vir myn, R11 119 721.72 vir die prosessering van plante en rehabilitasie van verwante gebiede, R3 395 174.42 vir stormwater bestuur en infrastruktuur, R3 059 349.52 vir ondersteunende infrastruktuur, R1 744 854.58 vir die sy-lyn, R1 098 515.32 vir nasorg en instandhouding. “Dit is nie ekonomies uitvoerbaar nie, ek weet nie hoe die myn ‘n bestaan wil maak nie. Met al die beplande uitgawes gaan hulle bankrot wees voordat hulle begin het,” het ‘n plaaslike boer en besigheidsman gesê.
Vergoeding
Daar is nog geen spesifieke bedrag opsy gesit vir geaffekteerde lede nie. “Boere sal op ‘n saak-vir-saak-basis vergoed word, afhangende van hoe hulle geraak word.” Daar is vier woonhuise sowat 850m van die skag, ‘n gastehuis word direk geraak en ‘n ander boer wou weet wie gaan betaal as hy in die toekoms nog boorgate op sy plaas wil sink en hy moet dieper boor as direkte gevolg van mynaktiwiteite. Daar is ook oor die 30 werkershuise wat ontruim moet word as daar geskiet word. As die werkers egter weier word mynaktiwiteite gestaak totdat daar tot ‘n ooreenkoms gekom kan word. Dit is wet, dieselfde wet waarop heelaand gehammer is en hoe dit almal sal beskerm vir jare wat sal kom. Maar die mense voel anders en selfs die Guptas se korrupsie is bespreek. “Die wet het ons in die steek gelaat” is laat hoor.
Werk vir plaaslike gemeenskap
Een van die beloftes wat gemaak is is dat die myn plaaslike mense voorkeur sal kry vir indiensneming. 130 Tydelike werkers sal in die konstruksie-periode van twee jaar in diens geneem word en 150 langtermyn-werkers sal in die 10 jaar baat. “Littlesnipe voldoen aan die voorgeskrewe maatstaf soos gestel deur die Departement van Minerale Hulpbronne en die Mynbou Handves. Plaaslike diensverskaffers (wat ook BBBEE-verskaffers mag insluit) sal gebruik word,” het Clifford Hallatt, mynontwikkelings-en eksplorasie-bestuurder gesê. Op die vraag hoe dit voel dat die gemeenskap hulle (hy en sy projekbestuurder, Dawid Venter) openlik kruisig, het Clifford gesê: “As ons moes luister na elke boer wat ‘n bohaai opskop as ons ‘n myn wil begin, sou Suid-Afrika nooit krag gehad het nie”. “Jy verkoop jou siel vir geld,” het ‘n pensionaris woedend gesê.
Samewerking – of nie
Hoewel daar baie beloftes gemaak is, is dit wat op papier gesien word en dit wat deur die gemeenskap geglo word twee verskillende dinge. Die verwoestende effek van steenkoolmyne, korrupsie en rehabilitasie-rampe is oral oor Suid-Afrika te sien en is veral in Mpumalanga duidelik sigbaar en niemand weet waar dit gaan ophou nie. Volgens Canyon Coal en EXM wil hulle saam met die boere en gemeenskap werk, maar die geaffekteerde partye het duidelik gemaak dat dit nie sonder ‘n geveg gaan gebeur nie. “Julle gaan die volgende vryheidsoorlog begin, julle sal my nie lewendig van my plaas af kry nie,” is woedend gesê.
Hierdie berig is net ‘n klein gedeelte van die inligting wat beskikbaar is en die kommentaar wat gelewer is. Vir die volledige verslag van EXM en meer oor dié myn, besoek ons FB blad en webwerf. Hou ook die blad dop vir die volgende publieke vergadering.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here