Waar daar ‘n wil is…..

Kifose Skoliose is op 20 maande by hom gediagnoseer, maar selfs dit keer dié Kriel-inwoner allermins om ‘n sukses van sy lewe te maak.

0
2325
The Bulletin Newspaper

‘n Toppressteerder op skool met onderskeidings in wiskunde, wetenskap, rekeningkunde, inligtingstegnologie en Engels en ‘n onlangse prestasie wat wenkbroue laat lig.
Hoewel die 18-jarige Johannes Karsten volgens dokters nie veronderstel is om te kan loop nie, het dié lewenslustige slimkop alle verwagtinge oortref en op 20 Oktober sy kode B-bestuurslisensie gekry.
”Ek was op my senuwees, maar het kalm gebly ten spyte van klein foute wat ek gemaak het. Ek het nie lank gewag voor ek gehoor het nie,” het Johannes opgewonde gesê. Sy ma, drie sussies en sy kat Nu-Nu is baie bly en verlig dat hy ook dié belangrike mylpaal in sy lewe behaal het.
Dit was omtrent ‘n proses om tot by hierdie punt te kom, want ná sy ma vir hom sy eie kar in Maart gegee het, moes dié motor eers vir sitplek- en pedaalverstellings gestuur word. Daarna was hy vir twee maande by Purple Turtle-bestuurskool in Secunda. “Enige dag wat ons ‘n afspraak kon maak, het die instrukteur na my huis gekom en ons het met my motor geoefen,” het Johannes dankbaar gesê.
Kifose Skoliose is op 20 maande by hom gediagnoseer, maar selfs dit keer dié Kriel-inwoner allermins om ‘n sukses van sy lewe te maak. Hy is tans besig met sy matriek-eindeksamen en is reeds vir volgende jaar by CTU in Pretoria ingeskryf om ‘n IT program-ontwikkelingskursus te loop. Volgens sy ma, Magda Karsten, is hy uiters goed aangelê in rekenaargeletterdheid. “Die dokters het gedink ek sou verstandelik gestremd wees en nie my dertiende verjaarsdag sien nie, maar God se genade is oor en oor in my lewe bewys,” het Johannes gesê. Dié Hoogenhout-leerling het reeds sy tweedejaar Bybelskool in Teologie klaargemaak.
Ná die afsterwe van sy pa in ‘n motorongeluk in September 2013 maak hy staat op sy ma en die Here vir ondersteuning. “My familie behandel my nie anders nie, maar die publiek doen. Dan vertel ek hulle hoe oud ek is en ignoreer dit,” het Johannes gesê.
Ten spyte van drie onsuksesvolle rugoperasies, is Johannes nog lank nie van plan om handdoek in te gooi nie. As die eksamen verby is, kan hy vir eers met sy gunsteling TV-speletjies ontspan voor hy die volgende groot uitdaging aanpak.
– Gwendie Venter

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here