Dié vegters van die Warrior-skopboksklub is vir die Mpumalanga-span gekies. Hulle is Sean du Plessis, George van Diggelen en Terrance Follwell.

George van Diggelen, Sensei en stigter van die Warrior-skopboksklub op Kriel, en twee van sy studente, Sean du Plessis en Terrance Follwell, is gekies vir die MASA Mpumalanga-span.
Die Warrior-skopboksklub het sy deure nege maande gelede geopen.
Die studente neem eerskomende Saterdag aan die ‘Great North’-kampioenskap wat in Pretoria gehou gaan word, deel.
Dié kampioenskap is dan ook die voorloper van die SAKA Mpumalanga-uitdunne sal wees om aan SAKA se Suid-Afrikaanse uitdunne deel te neem.
Die Suid-Afrikaanse Skopbokskampioenskappe vind volgende jaar in die Kaap plaas.
George beoefen al gemengde gevegskuns vandat hy sewe jaar oud is.
Sy studente beoefen skopboks en Muay Thai.
Hy het met karate begin en het later na judo oorgeskakel.
Hy het nog later met die ander gemengde gevegskunssoorte geeksperimenteer.
George was 25 jaar oud toe hy destyds besluit het om dié sport te staak, maar sewe jaar later het die gogga weer gebyt.
Hy is nou die voorsitter van die MASA (Martial Arts South Africa se Mpumalanga-beheerliggaam).
In dié amp het George al verskeie kwessies bevorder. Dit sluit in om instrukteurs te verplig om polisieklarings te kry vóór hulle as volwaardige instrukteurs kan kwalifiseer, en om noodhulpkursusse vir instrukteurs verpligtend te maak.
Gemengde gevegskunste is eintlik net één van George se liefdes – hy is voltyds ’n pastoor by die Victory Life Kerk op Kriel.
Hy het ’n moeilike pad gestap vóór hy pastoor geword het.
“Ek moes begin werk om die familie te onderhou.
“My pa was afwesig en later met my stiefpa het ons swaar tye op Belfast beleef,” het hy gesê.
Hy het tot bekering gekom nadat ’n buurvrou hom saam kerk toe genooi het.
“Dit het daardie dag gevoel asof die pastoor my lewe gepreek het en ek is daar verlos van rook, drank en dagga.”
Hy het besef hy het ’n hart vir kinders en hy het al 19 kinders in pleegsorg gehuisves en deur matriek gehelp.
Hy het ook sy eie onderneming waar hy kursusse aanbied en leerlinge help met ekstra klasse in onder andere wiskunde en wetenskap.
Een van sy toekomsdrome is om ’n tandheelkundige ambulans te begin wat spesifiek op die gemeenskappe fokus wat nie by tandartste kan uitkom nie.
George het ná skool vir 13 jaar vir Sasol gewerk as ’n senior-proseskontroleerder voordat hy deur die Volle Evangelie Kerk vir pastor begin studeer het.
Hy het ná Bybelskool voltyds in die bediening begin werk en het later op ’n wildsplaas in Limpopo gaan boer, maar dit het nie uitgewerk nie en George is nou al vir sowat ’n jaar weer terug op Kriel.
Hy het gespesialiseer daarin om mishandelde kinders en kinders wat deur trauma is, te help.
“My hart is om mense deur opleiding te bereik.”
Hy het vertel van ’n meisie wat die staat destyds as onopleibaar geklassifiseer het, maar George het ekstra tyd en moeite met haar ingesit en haar deur matriek gehelp.
“Sy sit vandag met verskeie diploma’s agter haar naam,” het George gesê.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here