Cecele en Doug Kelly is ma en pa vir baie kinders.

Doug en Cecele Kelly woon op ’n plaas buite Leandra en toe hulle in 1978 getroud is, het hulle nooit gedink hulle sal vandag ’n familie met 16 kinders wees nie.
Die egpaar se eerste kind, ’n seuntjie, is in 1979 gebore en ’n jaar later is sy sussie gebore.
Albei is met ’n chromosoom-afwyking, naamlik Turner-sindroom gebore.
Dié afwyking val in dieselfde klas as Downsindroom, maar hierdie kinders het te min chromosome en nie te veel soos wat die geval met Downsindroom is nie.
Almal het die egpaar aangeraai om nie nog kinders te kry nie, maar Cecele wou graag nog ’n kind hê.
Toe sy swanger was met haar derde kind, ’n dogtertjie, het dokters gesê sy moet die baba laat aborteer omdat sy misvorm was.
“Ons het vir die dokters gesê die Here het die kind verwek en ons sal haar nie laat aborteer nie,” het Cecele gesê.
Haar jongste dogter is in 1983 gebore en hoewel die egpaar bekommerd was oor hoe sy gaan lyk, was sy normaal en pragtig.
Die ouer dogter het chirurgie gehad aan haar oë omdat sy met skrefiesoë gebore is en oor Cecele se seun het dokters gesê hy sal nie sommer ouer as 13 jaar word nie en nooit kinders van sy eie kan hê nie.
Vandag het al drie Cecele se kinders grade en presteer in hul werksplekke.
Die twee dogters is albei onderwyseresse en die oudste dogter het haar graad met cum laude geslaag.
Haar seun het twee kinders van sy eie het en werk as netwerk-argitek en is een van die ses hoogs gekwalifiseerdes in die wêreld.
Cecele onthou hoe sy buite gesit het by hul huis in Secunda toe die kinders klein was en buite gespeel het toe die Here vir haar gesê het daar is negatiewe dinge en dood oor haar kinders uitgespreek.
“Ek het nie al die dinge verstaan op daardie stadium nie, maar ek het die dokters se verslae verbrand en lewe gespreek oor my kinders.
“My seun moes as kind arbeidsterapie kry.
“Hy kon op nege maande nog nie sit nie, en hy het nooit op skool geskryf nie, maar eerder op ’n tikmasjientjie getik.”
Cecele het in 1985 na ‘n praatjie oor pleegsorg op Radio Kansel geluister.
“Ons was baie dankbaar teenoor die Here vir ons eie drie kinders wat so ’n seën in ons lewens is en het besluit om kinders in pleegsorg te neem om vir die Here dankie te sê.
“Psalm 68 praat van eensames en weduwees vir wie die Here ’n Vader is.”
Die eerste drie kinders wat Doug en Cecele in pleegsorg geneem het, se ma was aan alkohol en dwelms verslaaf en die kinders is met alkohol-sindroom gebore.
Hulle het by Doug en Cecele grootgeword en noem haar steeds ma en die egpaar het steeds ’n hegte band met hulle.
Sedertdien het baie kinders gekom en gegaan. Daar was al 92 kinders in pleegsorg by die egpaar.
Hulle kry geen hulp van die staat nie omdat hulle nie geregistreer is nie.
Doug, wat by Sasol gewerk het, is nou afgetree en Cecele is ’n gr. R-onderwyseres by Laerskool Leandra.
“Die Here voorsien,” is haar antwoord op die vraag oor hoe die egpaar finansieël vir 16 kinders sorg.
’n Paar individue en ’n kerk gee maandeliks ’n bedrag aan die egpaar.
Van die kinders wat al volwasse is, bly ook steeds by die egpaar in woonstelle op die plaas en as dié familie eet, is dit ’n groot storie.
“Dit neem ons omtrent ’n driekwart-uur om op te skep.”
Maar kosmaak en etenstyd is die kosbaarste tyd van die dag, want dan is dit gesinstyd vir dié groot familie.
As jy die familie wil ondersteun, skakel Cecele by 083 659 2506.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here