Riana Bezuidenhout met Haley Jacobs.

Riana Bezuidenhout se droom is bewaarheid toe sy in Augustus 2010 haar eie swemskool oopgemaak het.
Sy leer baba’s van die ouderdom van vier maande af om te swem.
Riana het vir die Here gesê dit sal lekker wees as sy eendag haar eie swemskool kan hê, maar dit moet van Hom afkom.
“Die Here het my toe op ’n reis vir drie jaar geneem om my voor te berei,” het Riana gesê.
Sy het in dié drie jaar voordat sy begin het met die swemskool by skole uitgehelp en ook gehelp om iemand se besigheid te bestuur.
“Ek het ’n passie om met kinders te werk, maar ek het verkeerde besluite geneem toe ek jonger was.
“Ek moes onderwys gaan studeer het, maar ek het nie. Maar ek het vir die Here gesê ek wil my talente vir Hom gebruik.”
Sy het in die drie jaar ook Sondagskool-lesse gegee en glo dit was ook deel van haar voorbereiding vir die swemskool.
Riana het ’n brief vir die Here geskryf oor haar droom om haar eie swemskool te besit en sy kon drie jaar later na dié brief kyk en het besef haar droom het haar realiteit geword.
“Ek het vir die Here gesê as ek 80 kinders in my swemskool kan hê, breek ek gelyk. Met alle eer aan God, is ons swemskool vandag vol.”
Sy bied swemless aan vir kinders en volwassenes en haar doelwit is om kinders waterveilig te kry sodat hulle hulself sonder hulpmiddels uit die water kan help.
Wanneer sy die swemlesse vir baba’s aanbied, is die ma’s saam met die baba’s in die swembad, maar later sit die ma’s op die trappies terwyl Riana en haar instrukteurs die baba’s laat swem en hanteer in die water.
Riana het op Thabazimbi grootgeword en op hoërskool vir haar skoolspan gala geswem.
Sy het al vier style geswem.
“Dit was ’n klein skool en omtrent almal was in die swemspan.”
Sy en haar suster was egter sterk swemmers.
Na skool het sy in ’n sekretariële rigting by die Technikon in Pretoria gaan studeer en daarna vir 10 jaar by die Departement van Onderwys se hoofkantoor gewerk.
Sy is later getroud en sy en haar gesin het vir vyf jaar in Duitsland gewoon waar sy vir die eerste keer met babaswem in aanraking gekom het.
Sy het haar seuntjie vir klasse geneem en toe sy vyf jaar later terug is in Suid-Afrika, het sy weer haar seuntjie laat swemlesse neem.
Een van die instrukteurs waar haar seuntjie geswem het, was swanger en Riana het uitgehelp en swemlesse begin gee voordat sy haar eie swemskool oopgemaak het.
Riana moes vir drie jaar ophou swem omdat haar ore probleme gegee het.
Die drukking agter haar oordromme is groter as ’n normale persoon s’n.
Dié probleem kom sedert Riana se geboorte omdat sy 45 minute te laat gebore is en haar kop geswel het met geboorte.
Sy het as kind gereeld oor-ontsteking gehad omdat haar oordromme teruggetrek het.
Haar oodrdomme is later vernietig en sy moes al 12 operasies in haar linker-oor ondergaan.
Riana se swemskool is oop vanaf Januarie tot April en September tot middel Desember.
Vir meer inligting, skakel haar by 083 284 5151.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here