Jenny Vrey van Vroue op hul Knieë, het op 29 Julie ’n vroue-oggend by die Evanderklub aangebied en Eloïse Saayman was die gaskunstenaar.
Eloïse het vroue bedien met haar sang en getuienis.
“Op my geboortedag het die duiwel reeds van my probeer steel,” het Eloïse vertel.
“Die Here sê in die aangesig van jou vyand het Ek jou tafel voorberei.
“Die Here pak goedheid en guns uit oor jou lewe en die vyand sien dit ook.
“Goedheid en guns is ’n goeie kinderlewe in ’n liefdevolle huis ensovoorts, maar die duiwel kom steel van ons tafel met die verloop van die lewe.
“Die bloed van Jesus is al wapen wat ons het om die duiwel weg te hou van ons tafel.”
Eloïse is amper dood met geboorte omdat die naelstring om haar nek was.
Sy het haar sangtalent ontdek en op 19 haar eerste treffer op plaat opgeneem en sy het al die verhoog gedeel met bekendes soos Bles Bridges en Rina Hugo.
“Ek het lekker geld gemaak en baie plate verkoop, maar die musiekbedryf het dit nie vir my gedoen nie,” het Eloïse gesê.
“Die roem en die faam het dit nie vir my gedoen nie.”
Sy het op die ouderdom van 21 weggestap van die musiekbedryf en na Witrivier getrek saam met haar ouers waar sy net weer Bella Bok kon wees soos wat sy in haar kinderdae genoem is.
“Ek het vir die Here gesê ek sal net weer sing as dit vir Hom kan wees.”
Sy het naweke graag saam met minderbevoorregte mense gekuier en gebraai.
“Sy het haar eie ondernemings begin en op 38 was sy ’n miljoenêr.
“Ek het trots geword en saam met die rykes begin uithang en vergeet van my arm vriende,” het sy gesê.
“Ek het in ’n ‘stuck up’ koei op hoëhakskoene verander.
“My geld het my god geword.”
Die Here het met Eloïse gepraat in daardie tyd en haar gevra wat van haar beloftes geword het om rehabilitasie-sentrums oop te maak en armes te help as sy geld het.
Sy het binne ’n oogwink alles verloor en moes weer onder begin en het by ’n slaghuis begin werk.
“Ek het vir die Here gevra wat aangaan en Hy het gesê Hy het my woestyn toe geneem.
“Hy het gesê as ek oor die me, myself and I kom en nederig raak, sal Hy my help.
“Maar ek was steeds trots en soos ’n ‘spoilt brat’ wat nie my sin gekry het nie.”
Dinge het te veel geraak vir Eloïse en sy het een middag haar rewolwer geneem en tot by die wildtuin gery waar sy agter ’n boom haarself wou skiet.
“Ek het twee keer die sneller getrek, maar daar het niks gebeur nie.
“Ek het later gesien die veiligheidsklep was aan en het geweet dit was God.
“Ek was egter steeds kwaad en het besluit dan sal ek maar onder ’n vragmotor inry.”
Eloïse het drie keer voor ’n vragmotor ingery en drie keer gevoel hoe ’n hand hoër as hare, die motor se stuurwiel geruk het weg van die aankomende vragmotors af.
Sy het ná dié dag moeg op haar knieë gegaan en haarself oorgegee aan die Here.
Hy het haar gewys om weer te begin sing en dit is waar Eloïse se bediening afgeskop het.
Sy het vandag al verskeie CDs en DVDs op haar kerfstok en is te sien op Kruiskyk en KykNet.
Jenny het almal wat dié oggend bygewoon het en moontlik gemaak het, bedank.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here