Michelle Fick by van die ware wat vir die kinders van Kosmos Kriel Kinderhuis ingesamel is.

Michelle Fick het vanjaar haar 40ste verjaardag gevier en besluit om dit by die Kosmos Kriel Kinderhuis te bestee.
“Toe my famlilie en vriende my gevra het wat ons gaan doen vir my verjaarsdag of ons op ’n bootreis gaan of ’n partytjie gaan hou, het ek gedink wat wil ek hê,” het Michelle gesê.
“Ek het besef daar is niks wat ek wil hê nie, maar ek het ’n begeerte in my hart gehad om kinders wat niks of niemand het nie, te help.”
Michelle het dus al haar vriende en familie gevra om die geld wat hulle op ’n geskenk vir haar sou bestee, liewer te skenk vir haar projek by die kinderhuis.
Dié projek het so ontplof dat sowat 150 mense Saterdag na die Kosmos Kriel Kinderhuis toe is en hulle het sowat R40 000 se items geskenk in die vorm van verf, nuwe kombuistobehore, klere en kos vir die kinders.
Michelle en haar span het die minigholf-bane by die kinderhuis opgeknap, nuwe swaaie ingesit, bankies ingesit, die mure geverf en orals gehelp waar moontlik.
Sy het besluit om meer as kos en klere te gee omdat sy glo daar gaan altyd ’n behoefte vir kos en klere wees.
“Ek wou iets meer blywend ook gee of agterlaat, dit is hoekom ons die plek opgeknap het en nuwe speelgoed ingesit het,” het Michelle gesê.
Sy het gedink net haar vriende en familie sou deel word van dié projek, maar baie meer mense het belanggestel nadat Michelle ’n webwerf geskep het en haar idee op sosiale media gedeel het.
“Dit is regtig wonderlik as mense politiek buite in die koue los en kan fokus op die dinge wat ons eenders maak,” het sy gesê.
“My grootste verwagtinge vir dié dag is oortref.”
Ondernemings van verskeie plekke in Suid-Afrika het ook hul harte oopgemaak en van skryfbehoeftes tot sjokolade vir die huismoeders wat by die Kosmos Kriel Kinderhuis werk, geskenk.
“Ek glo dit is ’n groter hand wat dié projek in my hart kom plant het en ek sou dit nie sonder die hulp van almal wat betrokke was kon doen nie.”
Michelle het almal wat betrokke was of iets geskenk het, bedank.
Hulle het ook die huismoeders bederf met ’n medikuur en pedikuur.
“Hulle was so dankbaar dat ons hulle voete gewas het, my dag was volmaak.”
Haar grootste begeerte is dat elke persoon wat Saterdag daar was, aangeraak moet wees en huis toe moet gaan met ’n wens om betrokke te bly by dié kinderhuis.
Sy het met trane in haar oë vertel van die eerste keer toe sy Kosmos Kriel Kinderhuis besoek het.
“Ek het een seuntjie ’n drukkie gegee en toe ek weer sien het ’n hele ry seuntjies by my kom staan om ’n drukkie te kry.”
Daar is altesaam 84 kinders by die Kosmos Kriel Kinderhuis en die staatsubsidie is slegs vir 60 kinders.
Michelle het gesê die kinders het na die dag na haar toe gekom en gesê dit was die beste partytjie wat hulle al ooit gehad het.
“Een seuntjie het vir my ’n teddiebeer gegee en toe ek by die huis kom het sy naam daarop gestaan, toe het ek besef dit was sy teddiebeer wat hy vir my gegee het,” het Michelle gesê.
“Dit was die beste present wat ek nog ooit ontvang het en die teddiebeer is nou op my bed.”
Michelle woon al vir 21 jaar in Pretoria, maar sy het op Secunda grootgeword.
Vir meer inligting, of as jy by dié projek betrokke wil raak, skakel Michelle by 082 788 7234.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here