Louis Viljoen (77) se liefde vir sport en sy talente in atletiek het hom ’n beurs besorg om in Duitsland te studeer in sy jeug.
Dié onderwyser van Laerskool Krielpark op Kriel, het sedert sy laerskooldae al uitgeblink op die sportveld.
Hy is in Potchefstroom gebore en het in sy laerskooljare by sy tannie gaan woon ná sy pa in ’n motorongeluk dood is en sy ma nie alleen vir hom en sy twee broers kon sorg nie.
Louis het in gr. 10 vir Hoërskool Gimnasium se eerste rugby-, krieket- en tennis-spanne gespeel.
Destyds kon geen atleet in die Wes-Transvaal hom klop in die 800m-wedlope wat hy binne minder as twee minute afgelê het nie.
Hy het in matriek Duits as vak gehad en hy het ná matriek by Pukke gaan studeer vir sy BC-graad met liggaamlike oefeninge as een van sy vakke.
Louis se tante, Anna Viljoen, het destyds aangetroude familie gehad wat by die Duitse ambassade gewerk het.
Só het hy die geleentheid gekry om in Duitsland te gaan studeer.
Louis het dié geleentheid met albei hande aangegryp en vir vier jaar aan die Universiteit van Köln in Duitsland studeer.
Hy was in die universiteit se atletiekspan en het vier nuwe Suid-Afrikaanse rekords verbeter, maar weens die politieke toestand in Suid-Afrika was hierdie nuwe rekords nooit erken nie en hoewel Louis toegelaat was om aan atletiekbyeenkomste deel te neem, was hy verbied om die podium te verskyn of genoem te word.
Die destydse Eerste Minister van Suid-Afrika, PW Botha, het toestemming gegee dat Louis aan atletiek-byeenkomste kon deelneem, hoewel hy nie erkenning daarvoor sou ontvang nie.
Louis het ook gekwalifiseer om aan die Olimpiese Spele in Tokio in 1964 deel te neem, maar weens die politieke situasie in Suid-Afrika, is hy verbied om deel te neem.
Hy het sy diploma in onderwys voltooi en in Duitsland as hokkieskeidsregter en skeidsregter in atletiek vir al die items gekwalifiseer.
Hy het ná sy tuiskoms uit Duitsland by verskeie skole in Suid-Afrika skool gehou, ondermeer ook as departemensthoof en skoolhoof, tot sy aftrede op die ouderdom van 65-jaar.
Dié kranige sportman het al sewe keer die Comrades-marathon gehardloop.
Hy het deur die jare sy honneurs- en sy meestersgrade in liggaamlike oefeninge gedoen en gefokus op die kardiovaskulêre ontwikkeling van 17-19-jarige skoolseuns.
Louis kan nie stilsit nie en het ja gesê toe Laerskool Krielpark hom in 2005 ’n pos aangebied het.
Hy het later by Laerskool Onverwacht op Kriel gaan werk, maar is die afgelope vier jaar weer terug by Laerskool Krielpark.
Louis wil einde vanjaar aftree en dan ekstra wiskunde-klasse aanbied.
Hy skilder graag in sy vrye tyd en neem nou nie meer aktief aan sport deel nie, maar hy geniet dit om te stap en in sy somertuin te werkskaf.
Hy het gesê dit is te danke aan die Here dat hy die talente en geleenthede gehad het wat oor sy pad gekom het en hy het sy vrou, Susan bedank vir haar liefde en ondersteuning.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here