Renaldo Alberts saam met Steve Hofmeyr tydens sy onlangse optrede op Secunda.

Renaldo Alberts, ’n gr.11-leerling van Hoërskool Secunda en plaaslike jong sanger, beplan om teen die einde vanjaar sy heel eerste CD bekend te stel.
Hy het reeds vier van sy eie liedjies opgeneem en het al die verhoog gedeel met van die land se bekendste sangers soos Steve Hofmeyr, Joe Foster, Heinz Winckler, Dewald Wasserfal en Bobby van Jaarsveld.
Renaldo se liefde vir musiek het as kind begin. Sy ma, Annamarie Alberts, het die sanger Anton Myburg gekry om by haar man se verjaarsdagpartyjie op te tree toe Renaldo agt jaar oud was.
“Renaldo het saam met Anton gesing en ons het gesien hy hou daarvan,” het Annamarie gesê.
Hy het egter eers toe hy 14 jaar oud was by feeste begin optree.
Hy het sy eerste jaar op hoërskool by die Afrikaanse Seuns Hoërskool in Pretoria voltooi, want die gesin sou na Pretoria verhuis.
Hulle het egter nie verhuis nie en Renaldo het terug Secunda toe gekom.
Hy is nou in Hoërskool Secunda waar hy ook vir die skool se eerste rugbyspan uitdraf.
By Affies het hy musiek as vak gehad en dit baie geniet.Hy is al die afgelope twee jaar ’n voorsanger in die Kruik Kerk en het minstens een keer maandeliks ’n vertoning.
“Ons moet gereeld nee sê vir optredes, want hy moet op sy skoolwerk fokus,” het Annamarie gesê.
Renaldo was in 2015 in Amerika waar hy ’n liedjie saam met Nate Butler, ‘n Amerikaanse liedjieskrywer en musiekvervaardiger, opgeneem het.
Hy het ook daar aan ’n ‘Talent Scout’-kompetisie deelgeneem en sewe oproepe van belangstellende vervaardigers gekry, maar hy sou dan ’n kontrak moes teken en vir minstens drie maande in Amerika moes woon. Hy het dus die aanbiedinge van die hand gewys.
Renaldo maak geen geheim van sy liefde vir die Here nie en bestee baie tyd in die Woord.
Hy doen graag liefdadigheidswerk en is vandeesweek saam met die span van Kruik Kerk op ’n uitreikaksie na Mosambiek.
Hulle gaan ’n skool daar opknap en evangeliesasie-werk doen.
Renaldo is op 26 Augustus by Laerskool Secunda se inniPark Fees te sien.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here