Dr. Zac bou Lego-hospitaal

0
1464
Dr. Zac van Wyk by die Lego-hospitaal wat hy gebou het.

Dr. Zac van Wyk het ’n volledige hospitaal met Lego-blokkies gebou.
Lego’s is een van dié oor, neus en keel-spesialis se stokperdjies en hy maak reeds vir 33 jaar Lego-blokkies bymekaar.
Hy en sy vrou, dr. Ann Baker, woon al agt jaar op Secunda.
Dr. Van Wyk het as kind al van Lego-bou gehou en het gesê dit is om die Lego-tafel waar sterk familie-bande gesmee is.
“Ons het ure en ure om die Lego-tafel bestee,” het dr. Van Wyk gesê.
Die gesin het op Kimberley in ’n huis gewoon wat meer as ’n honderd jaar oud was en hulle het ’n kamer spesifiek vir Lego-bou ingerig.
“’n Mens bou nie ’n sterk band met jou kinders as jy net vyf minute per dag met hulle bestee nie, maar wel ure.”
Vandat sy drie kinders uit die huis is, bou hy alleen met Lego-blokkies en dit het hom ses maande geneem om die hospitaal met Lego-blokkies te bou.
Dié hospitaal is kompleet met ’n ongevalle-afdeling, teaters, ’n ontvangsgebied, ’n kantoor vir die bestuur van die hospitaal, X-trale, ’n apteek, ’n kombuis, ’n pediatriese-saal, ’n kindersaal en ’n teekamer, wat dr. Van Wyk glo baie belangrik vir die hospitaalpersoneel is.
Die hospitaal het selfs ligte in, ’n hysbak, skoonmakers, ’n kitsbank, ’n kostrollie, ’n helikopter buite op die dak en seemeeue.
Aan die agterkant van die hospitaal is asblikke en katte asook gasbottels.
“Die gasbottels is noodsaaklik vir die hospitaal, sodat die pasiënte kan slaap” het dr. Van Wyk gesê.
Hy het ook ’n rokersafdeling op die hospitaal se dak gebou.
Die Van Wyk-gesin het eers op Kimberley gewoon en voordat dr. Van Wyk en sy vrou na Secunda verhuis het, het hulle eers vir twee jaar in Engeland en ’n jaar in Nederland gewoon en gewerk.
Die bordspel, War Hammer, is nog een van dr. Van Wyk se stokperdjies.
War Hammer is meer bekend in Engeland en Europa.
Hy het op ’n stadium perde besit en graag perd gery, maar nou fokus hy eerder op Lego’s en hy leer tans hoe om die taal Mandarin, wat hoofsaaklik in China gepraat word, te lees en te skryf.
Dr. Van Wyk het ’n liefde vir wiskunde en het onlangs weer matriek-wiskunde gedoen net vir die pret.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here