Foxtrot, Mart-Marie Snyman, Secunda, The Bulletin
Mart-Marie Snyman is ’n klassieke en jazz pianis. Sy is ook deel van die musiek-groep, Foxtrot.

Mart-Marie Snyman (27), klassieke en jazz-pianis wat sangers soos Anna Davel begelei en saam met verskeie musiekgroepe optree, bied sedert begin vanjaar klavierlesse op Secunda aan.
Sy leer haar studente, wat kinders en volwassenes insluit, klassieke-, kontemporêre musiek en jazz.
“Kinders wil nie net klassieke musiek doen nie, hulle wil leer om self te komponeer en saam met hulle vriende musiek te maak,” het sy gesê.
“Dit is fantasties om te sien hoe hulle hul eie kreatiwiteit ontdek en die wonders wat dit vir hulle selfbeeld doen.”
Mart-Marie begelei sedert 2014 die bekende sangeres Anna Davel en in 2016 het sy haar internasionale debuut gemaak tydens die ‘Week van de Afrikaanse Roman’ in Nederland en België.
“Ek was bevoorreg om Karin Hougaard te kon begelei.
“Ons het tien vertonings gelewer en elke oomblik was ’n belewenis.
“Karin is ’n ongelooflike musikant en ek het gesien wat dit beteken om álles in ’n vertoning te gee.”
Mart-Marie, wat in Pretoria grootgeword het, was maar vyf jaar oud toe haar ma haar klavierlesse laat neem het.
“Ek was selde lus vir oefen en daar was baie gevegte voor die klavier.
“Vandag is ek natuurlik bly daaroor.”
Op hoërskool het Mart-Marie vir Charl du Plessis, Nataniël se pianis en stigter van die Charl du Plessis Trio, ontmoet en ná skool haar BMus-graad onder sy leiding voltooi.
Charl en Mart-Marie is van die min Suid-Afrikaanse pianiste wat in beide klassieke musiek en jazz spesialiseer.
Mart-Marie het by verskeie teaters in Pretoria opgetree, dikwels as musikale direkteur.
Sy geniet dit wanneer die adrenalien op die verhoog pomp, maar sê dit word voorafgegaan deur ure se swoeg met musikale verwerkings en oefen, oefen en oefen.
Sy komponeer graag en het gesê: “Ek wil kreatief wees en sonder enige grense skep.”
Dis die liefde wat Mart-Marie na Secunda laat verhuis het, maar sy tree nog gereeld in Gauteng op, meestal saam met haar musiekgroepe FOXTROT en Duologues.
“FOXTROT is ’n electronic kontemporêre groep en hulle skryf al hul liedjies self.
Hulle is in die proses om hul eerste CD te maak en dié groep kan op 6 Augustus by Eish!! gesien word.
Duologues is ’n world-music duo wat uit Mart-Marie en die kitaarspeler Rynier Prins bestaan.
Dié groep het onlangs by die Wakkerstroom Musiekfees opgetree.
Mart-Marie se projek ‘Help a Child Learn Piano’ lê haar na aan die hart.
Hiérmee daag sy ondernemings uit om klaviere of klawerborde te borg wat sy kan gebruik om kinders wat deur trauma is te leer klavier speel.
“Dit is verstommend hoe musiek jou met jou liggaam in voeling kan bring en jou kan help om trauma te verwerk en heel te word.”
Mart-Marie tree graag by troues en ander geleenthede op.
Vir meer inligting, skakel haar by 082 574 6064 of besoek haar webwerf, www.martmariesnyman.com.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here