Carla Kruger en Liza van der Westhuizen tydens ’n besoek aan Lighthouse Tehuis.

Liza van der Westhuizen, ’n gr. 12-leerling van Hoërskool Secunda, het die ‘Kids with Capes’-projek vroeër vanjaar begin.
Sy en haar vriend, Zandre Wolmarans, het een Sondagmiddag rondgery en iets gesoek om af te neem nadat Zandre vir hom ’n kamera gekoop het.
Hulle het by die Lighthouse Tehuis vir kinders uitgekom waar Zandre al voorheen lekkergoed uitgedeel het as deel van ‘n ander projek.
“Ons het lekkergoed en koeldrank gaan koop en vir die kinders gaan uitdeel,” het Liza gesê.
“Dit het my gelukkig gemaak om hul gesigte te sien en ek het vir Zandre gesê ek wil dit meer dikwels doen.”
Sy en Zandre het sedertdien al verskeie kere Lighthouse Tehuis besoek en tyd met die kinders bestee.
Hulle het ook toiletware, kos en klere vir die tehuis ingesamel en uitgedeel.
“Van die meisies daar moes een pakkie sanitêre doekies deel tussen drie.
“Ons het vir die meisies sanitêre doekies ook ingesamel.”
Liza wil nou elke kind in die tehuis se verjaarsdag spesiaal maak en hulle bederf met kolwyntjies en lekkers.
Liza se vriendin, Carla Kruger het ook gehelp met die projek.
Die naam Kids with Capes het gekom toe Liza besluit het die projek moet ’n naam kry en sy glo al die kinders in die tehuis is spesiaal en superhelde in hul eie reg.
Liza is nog nie seker wat sy wil doen wanneer sy klaar is met matriek nie, maar sy sal daarvan hou om iets kreatiefs te doen.
In haar vrye tyd maak sy Doen-dit-jouself-artikels of verf of oefen in die gimnasium.
Sy het Liezel Erasmus, voorsitter van die Femmy-klub by Hoërskool Secunda, bedank.
Lede van die klub brei serpe en samel geld in vir Kids with Capes.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here