Bobby het al in vele inwoners se harte gekruip en is gelukkig by sy huis van die afgelope drie jaar.

Bobby die drie-beenhond gaan lê nie sommer nie.
Die diere-organisasie, Little Paws Big Hearts, het vir Bobby in ‘n plakkerskamp gekry in 2014.
Volgens Louis Kempen van Little Paws Big Hearts, kon Bobby nie loop teen die tyd wat hulle hom gekry het nie.
“Dit was toe reeds twee jaar nadat hy raakgery is en hy kon nie staan nie omdat hy soveel pyn gehad het,” het Louis gesê.
“Ons moes hom motor toe dra.”
Hulle het hom veearts toe geneem en sy agterpoot kon gelukkig gered word, maar die veearts moes sy voorpoot amputeer omdat dit toe reeds skeef aan gegroei het.
Die publiek het binne twee dae geld vir Bobby se opeasie ingesamel.
Little Paws Big Hearts moes die eienaar se toestemming kry om Bobby se beene te amputeer en later het die eienaar hom afgeteken en hy was voltyds in Little Paws Big Hearts se sorg.
Dit kry Bobby egter nie onder nie. Volgens sy baas, Belinda Pienaar, hardloop Bobby op drie bene rond en is hy die dankbaarste hond wat sy al teëgekom het.
“Ons het ons hande vol om hom stil te hou,” het sy gesê.
Bobby moes twee weke gelede vir die tweede keer ‘n operasie ondergaan. Die veearts moes die skouerblad van die geamputeerde been uithaal omdat dit gedurig sy vel stukkend gemaak het.
Volgens Belinda, het Bobby se operasie dié keer nege ure geduur en sy is dankbaar om haar honde-kind weer veilig by die huis te hê.
“Die eerste keer toe ek hom gesien het, toe Little Paws Big Hearts gesê het hulle soek ‘n permanente huis vir Bobby, het hy so op sy rug gelê en vir my geyk,” het Belinda vertel.
“Toe het ek dadelik gesê ek vat hom.”
Sedertdien het Bobby diep in al die harte van Belinda se huismense, die Little Paws Big Hearts-lede en die veearts, dr. Talitha Lubbe van die Eendedam Dierekliniek, gekruip.
Bobby het in 2015 gif ingekry toe verskeie honde in die straat vergiftig is, maar Bobby het dit ook oorleef.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here