Taneschka Theunissen (18) is van kleins af gemaklik op ’n motorfiets.
Haar pa, Chris Theunissen, het haar al op ’n jong ouderdom leer motorfiets bestuur en sy het haar eerste 50cc tweewiel-motorfiets gekry toe sy net vyf jaar oud was.
Haar pa het dit later vervang met ’n 100cc vierwiel-motorfiets.
Toe sy 10 jaar oud was, was dié vierwiel-motorfiets te klein en sy het toe haar eerste 125cc tweewiel-motorfiets gekry.
“Ek het met motorfietse groot geword omdat my pa so lief is vir motorfietse en ek het gereeld saam met hom in die veld gaan ry,” het sy vertel.
“My pa het my geleer om met sy CSXR 1000cc motorfiets te ry toe ek 13 was.”
Haar pa het later ’n 650cc vierwiel Bombardier gekoop en Taneschka het haar motorfietsry-vaardighede op dié motorfiets verbeter.
“My pa het toe vir my ’n KDX 200cc veldfiets gekoop en ek het my stokperdjie om aan motorfiets-kompetisies deel te neem verder beoefen.
Sedertdien beoefen Taneschka steeds dié stokperdjie.
Haar pa was in 2013 in ’n ernstige motorfietsongeluk beseer en kan nie meer ry nie.
Dit het Taneschka vir twee jaar van motorfietsry afgesit en het sy nie meer self bestuur nie.
Sy het wel saam met haar vriend, Brendon Fick, wat haar passie en liefde vir motorfietse deel, gery.
Sy het in dié tyd net ná haar pa se ongeluk soveel as moontlik tyd met hom bestee en gehelp om hom te versorg.
Haar pa het wonderbaarlik herstel na ernstige breinbeserings.
“Pastoor Warren Davids het vir my man kom bid en hy is genees,” het Amanda Theunissen, Taneschka se ma, gesê.
“Hy is ’n lewende wonderwerk, as ons nie die pad saam met God gestap het nie, sou ons dit nie gemaak het nie.”
Taneschka het na twee jaar haar vrese oorkom en het nou self weer op die ysterperd geklim.
Sy het ook onlangs aan haar eerste hindernis-kompetisie deelgeneem, geval en haar been beseer.
Dit was egter nie lank nie toe is sy weer op die fiets.
Brendon neem graag aan kompetisies deel en as die twee kans kry oor naweke gaan ry hulle graag in die veld.
Die gogga het Taneschka se kleinboet, Jaundrew, ook gebyt en hy help haar en Brendon om die motorfietse te diens.
Brendon gaan vanjaar aan die GXCC Northern Regionals-motorfietskompetisies deelneem.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here