Awie Small in een van sy duiwehokke.

Awie Small (65) boer nie net met gewone duiwe nie, hy boer met sierduiwe.
Hy het op ‘n plaas grootgeword en geboer vandat hy 18 jaar oud is.
Hy en sy vrou het einde verlede jaar na Trichardt verhuis om af te tree.
“Ek was nog altyd baie lief vir die plaasdiere en daarom geniet ek dit nou om met die sierduiwe te boer,” het Awie gesê.
Hy het sowat 600 duiwe van 24 verskillende rasse.
Om met sierduiwe te boer, verg goeie beplanning en harde werk.
Op die kompetisies, waar daar met die duiwe gespog en geskou word, kyk die beoordelaars na die standaard van die duiwe.
“Daar is verskeie standaarde waaraan die duiwe moet voldoen,” het Awie gesê.
Hy berei tans sy duiwe voor vir die Suid-Afrikaanse kampioenskap wat in Julie in Pietermaritzburg plaasvind.
Dit is die eerste Suid-Afrikaanse kampioenskap waaraan Awie se duiwe sal deelneem en hy gaan vier van sy duiwe vir dié kampioenskap inskryf.
Hy het in Mei ses duiwe vir die Oostelike Streekskou op Ermelo ingeskryf en vyf van sy duiwe het gewen.
Van die voorbereiding sluit in dat die duiwe weekliks moet bad, hul toonnaels en vere geknip moet word en dat hulle afgerig moet word om in die loophokke te loop en te pronk.
Duiwe kan aan skoue begin deelneem as hulle sowat agt maande oud is hoewel sommige duiwe eers op 12 maande ontwikkeld is en dan skou toe kan gaan.
Broeipare word selektief deur die duiwe-boere uitgesoek om mekaar te komplimenteer.
“Ons noem dit wetenskaplike teling,” het Awie gesê.
“Ons kyk ook na die duiwe se bloedlyne as ons broeipare soek.”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here