Dano Sadie is veelsydig en blink uit in sport, kultuur en op akademiese gebied.

Dano Sadie, ’n graad 10-leerling by Hoërskool Oosterland, blink op verskeie gebiede uit.
Hy is deur die ‘Foreign Student Exchange Association’ gekies om vir ’n maand lank as uitruilstudent in Duitsland te woon.
Om vir dié uitruil-program in aanmerking te kom, moes Dano ’n CV instuur en ’n motivering skryf.
Hy was sesde in Suid-Afrika op die ranglys en tweede in Mpumalanga met sy aansoek.
Dano het verlede jaar eerste in die nasionale ATKV-redenaarskompetisie geëindig met sy praatjie oor die nadele vir kinders wat ver van die huis af te woon en in top spogskole is.
“Dit was nogal ’n kontroversiële toespraak,” het Dano gesê.
Hy het ook die eerste plek behaal in die Engelse kompetisie, Public Speaking, wat verlede jaar in Witbank gehou is.
Dano het ook aan KykNet se drama-kompetisie deelgeneem en is gekies om in die nasionale kompetisie teen sowat 580 ander deelnemers mee te ding.
Hy en sy afrigter, Lerika Oosthuizen, ’n onderwysers by Hoërskool Oosterland, is Kaap toe vir die eindronde waar hy ’n komedie genaamd Toe oog-afspraak, opgevoer het.
Dano het Lerika in die besonder bedank vir haar hulp en ondersteuning.
Hy gaan in die eindronde van vanjaar se redenaarskompetisie praat oor nog ’n kontroversiële onderwerp naamlik die mag wat sport in skole beklee en die nadeel wat dit op die leerlinge het.
Dano blink nie net uit op die kultuurgebied nie, maar is ook ’n kranige sportman.
Sokker is sy gunsteling sportsoort, hoewel hy dit net sosiaal oor naweke beoefen.
Hy speel vir Hoërskool Oosterland se eerste hokkiespan en neem ook jaarliks aan atletiek deel.
Hy maak maklik pêlle as hy sy sokkerbal orals heen saamneem omdat sokker ’n wêreldwye sport is en almal dit ken.
Dano het meer in sokker begin belangstel ná die Sokker-wêreldbekertoernooi wat in 2010 in Suid-Afrika gehou is.
Hy blink op akademiese gebied ook uit en is jaarliks eerste op sy skool se akademiese Top 10-presteerderslys.
Hy het nog elke jaar akademiese ere-kleure verwerf en hy sit baie tyd in sy leerwerk vóór eksamens.
Dano speel viool en het ’n onderskeiding hiervoor in sy Unisa-eksamen behaal. As hy nie voor sy boeke sit, sy redenaarspraatjies oefen of sokker speel nie, bestee hy graag tyd in die gimnasium.
Hy wil ná skool studeer om ’n aktuaris, rekenmeester of ingenieur te word.
“Dit is eintlik my droom om ’n sokkerspeler te word, maar ek het besef dit is onrealisties,” het hy gesê.
Dano doen ook gereeld saam met sy ouers opheffingswerk in die gemeenskap en besoek ’n kinderhuis in eMbalanhle waar hy saam met die kinders sokker speel en tyd saam met hulle bestee.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here