Erika Swart het verskeie medaljes ingepalm toe sy nog aan landloop en langafstand-padwedlope deelgeneem het.

Erika Swart (59) het na jare as atleet van halfmarathon-wedlope haar hardloopskoene vir stapskoene verruil.
Sy het op die ouderdom van 33 begin hardloop toe een van haar man se kollegas hom uitgedaag het om 21km te hardloop.
“Ek het besluit om saam met hom te hardloop,” het Erika vertel.
Dit is waar die gogga haar gebyt het en sy het daarna begin om aan 42km-wedlope, 32km-wedlope, 21km-wedlope, 10km-wedlope, 10 000m-landloop en 5 000m-landloop deel te neem.
Sy het gereeld onder die eerste drie vroue geëindig en het ook al aan die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe deelgeneem.
“Ek het aan ’n 42km-wedloop gaan deelneem en nie eers geweet hulle kies daardie dag atlete vir die Suid-Afrikaanse Kampioenskappe nie,” het sy gesê.
Sy het tweede geëindig en is gekies vir die Mpumalanga-span.
Sy het in 2010 aan haar laaste wedloop deelgeneem, sy moes ophou hardloop weens gesondheidsredes, maar stap nou steeds daagliks.
“Stap frustreer my soms, want hardloop is vinniger.”
Sy doen gereeld die Parkrun en stap tussen 5- en 8km elke dag.
In haar vrye tyd doen sy graag kralewerk, hekelwerk en plakboekwerk.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here