Adj.-Off. Oosie Oosthuizen, Estelle van Eeden, Eerika Rademeyer, Mauriza Pheiffer en Nadia Erasmus by die Wieleskou.

Hoërskool Oosterland se Wieleskou die afgelope naweek het nie net vir vermaak gesorg nie, maar dié skool het ook teruggeploeg in die gemeenskap.
Hulle het ondernemings gevra om spanne in te skryf vir die rolstoel-resies.
Deelnemers moes onder andere van hul rolstoele afklim en ’n doel gooi en in en uit ’n motor klim.
Mathys Roets, bekende sanger wat al vir vier jaar in ’n rolstoel is, het die spanne vergesel en raad gegee.
“Vir die meeste van die deelnemers was dit ’n verrykende ervaring en behalwe vir stywe skouerspiere het hulle nou nuwe respek vir mense wat permanent met rolstoele oor die weg moet kom,” het Liné de Vries, Oosterland se skakelbeampte, gesê.
Die inskrywingsgeld vir die rolstoel-resies het gegaan vir Retshepile Mbonani, ’n gestremde leerling van Basizeni Spesiale Skool in eMbalenhle wat ’n rolstoel nodig het. Sy kom nou oor die weg met ’n gewone rolstoel, maar sy gaan binnekort ’n elektriese rolstoel moet kry omdat haar toestand versleg.
Die Wieleskou se rolstoel-resies het ’n bydrae van R8 000 gelewer vir Retshepile. Haar rolstoel gaan uiteindelik R34 500 kos.
Die spanne wat aan die rolstoel-resies deelgeneem het, was Tiger Wheel & Tyre, Graceland, Iemas, Westvaal Motors, DA, Perfektum,, Minuteman Press, en twee spanne van Proconics.
Tyger Wheel & Tyre het die hele dag voorgeloop totdat die laaste span van Proconics hulle onttroon het.
Iemas se span het derde geëindig.
Oosterland beplan om dié projek volgende keer groter en beter aan te bied en Liné het almal wat betrokke was vir hul bydrae bedank.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here