Baba Luke Britz, Pastoor Hannes Smit, Estie Smit, Oase van Liefde Kerk, Secunda
Pastoor Hannes Smit is Maandagmiddag (1 Mei) aan ’n hartaanval dood.

Baba Luke Britz se oupa, pastoor Hannes Smit (50) van die Oase van Liefde-gemeente op Secunda, is Maandagmiddag (1 Mei) aan ’n hartaanval dood.
Volgens Estie Smit, pastoor Smit se vrou, was hulle op pad huis toe nadat hulle by Spar was en pastoor Smit het gesê hy het borspyn.
Sy was op pad hospitaal toe met hom, maar hy het gesê hy was dors en sy het eers by die Palms-sentrum gestop om water te koop.
“Hy het in die motor gesit en begin blou word om sy lippe,” het Estie vertel.
“Ek het om die motor gehardloop om mond-tot-mond asemhaling toe te pas en hom te help.”
Daar was toevallig parameddikuste op die toneel wat Estie en pastoor Smit te hulp gesnel het, maar hulle het gesê dit is verby, hy is reeds dood.
“Hy het Sondag nog jaffles gemaak by ’n fondsinsamelings-geleentheid vir Luke en hy het nog grappe gemaak en Maandagoggend nog ons seun se motor herstel,” het Estie vertel.
Intussen is klein Luke steeds in die hospitaal.
Hy is op 14 Februarie te vroeg gebore en is sedertdien in ’n privaat hospitaal op Trichardt.
Dit gaan al beter met Luke en dokters het gesê hy kan moontlik binnekort huis toe gaan, maar hulle kan nog nie sê wanneer nie.
Hy haal al self asem, maar is steeds aan masjiene gekoppel.
Die rekening beloop tans R1.4 miljoen en styg steeds daagliks.
Die gesin het reeds R36 000 betaal wat hulle gekry het van onder andere Oase van Liefde Kerk se hoofkantoor, die Marion Rose-stigting en ander besighede.
Pastoor Smit het ook ’n deel van die rekening betaal.
Die Zandfontein Perdeplaas naby Brendan Villige bied more (6 Mei) ’n markdag aan om geld in te samel vir Luke.
Daar gaan pret wees vir die hele gesin asook perderitte vir kinders.
Vir meer inligting, skakel Carel by 062 989 5945.
BTI (Beauty Therapy Institute) op Trichardt bied op Saterdag, 20 Mei ’n bederfdag aan om geld in te samel vir Luke.
Belangstellendes kan hulself bederf met verskillende masserings wat wissel tussen R100 en R150.
Vir meer inligting, of om te bespreek, skakel Yolandi by 082 499 1268.
Manie Jackson tree op Woensdag, 31 Mei by Our Place op Trichardt op en die wins gaan ook vir Luke.
Kaartjies kos R100 per volwassene en R50 per kind onder die ouderdom van 12.
Vir meer inligting, of om te bespreek, skakel Estie by 074 601 6312.
Pastoor Smit se begrafnis vind op Dinsdag, 9 Mei om 11:00 plaas vanuit die Immanuel-gemeente in EG Jansenstraat.
Na afloop van die diens gaan belangstellendes begrafplaas toe en verversings sal by die Oase van Liefde-gemeente bedien word in Okavangostraat 6.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here