Helpende Hand vrywilligers word bemagtig

0
468

Bykans 100 vrywilligers van 22 takke, wat Secunda insluit, van Solidariteit Helpende Hand het in die begin van Maart die Mpumalanga-streeksvergadering op Middelburg bygewoon.
Die streeksvergadering vind drie keer jaarliks plaas en die doel daarvan is om Helpende Hand se
vrywilligers te bemagtig met kennis.
Volgens Helpende Hand Mpumalanga se streeksorganiseerder, Alisha de Lange, was daar ’n verskeidenheid sprekers by die geleentheid, onder andere dr. Gustav Gouws wat die vraag gevra het: ‘Wie versorg die versorger?’
Hy het dit beklemtoon dat die vrywilligers wat by Helpende Hand en ander organisasies betrokke is, meeste van die tyd die ekstra myl loop en soms ook uitgeput en oorlaai voel.
“Dit is dan belangrik om na hulself om te sien anders kan dit lang termyn skade en uitbranding beteken,” het dr. Gouws gesê.
Isabel Faure, Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werker het die takke ingelig oor belangrike maatskaplike sake waarmee hulle te doen kry.
Sy het onlangs ’n Maatskaplike gids vrygestel wat gebruikersvriendelik is vir vrywilligers wat op grondvlak soms met moeilike vrae gekonfronteer word.
Riaan du Plooy, adjunk-uitvoerende hoof van Helpende Hand het die takke opnuut laat dink oor die belangrikheid van reg gee.
Die #geeReg-beginsel laat mense weer dink oor die rede hoekom jy gee.
“Moenie iets vir iemand anders doen wat hy vir homself kan doen nie of doen dit saam met hulle,” het Riaan gesê.
Dié beginsel is baie belangrik wanneer Helpende Hand projekte aangepak word.
Vrywilligers van die verskillende takke het hul suksesverhale gedeel en mekaar bemoedig om ’n verskil in hulle gemeenskappe te maak.
“Dit is vir my ’n riem onder die hart om te sien hoeveel vrywilligers hul tyd opgeoffer het om bymekaar te kom en planne te maak om ’n verskil in hul gemeenskappe te maak,” het Alisha gesê.
“ Die Mpumalanga Helpende Hand-streek bars uit sy nate, en ons is dankbaar vir elke vrywilliger se diensbare hart.
“Dié mense gebruik hul eie tyd en soms hulpbronne om Helpende Hand se voetspore duidelik te maak in hul dorpe.
“ Ons kan miskien nie ’n hele gemeenskap verander nie maar daar waar ons betrokke is, maak ons ’n verskil een een op ’n slag.
“Sodoende verander ’n gemeenskap.
Baie dankie aan almal wat so onbaatsugtig ’n verskil maak.”
Vir meer inligting of om by die Secunda-tak betrokke te raak, skakel Marlien Combrinck by 082 908 6655.
Vir meer inligting oor Mpumalanjga-streek se projekte, besoek hul Facebook-blad by Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Streek.

 

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here