Sasol-rugbyspanne maak skoonskip

0
1274

Al drie spanne van die Sasol Hydra Arc-rugbyklub het op Saterdag (22 April) hul ligawedstryde op hul tuisveld gewen.
Sasol 1 het vir Nelspruit se eerste span met ’n kragvertoning ore aangesit.
Sasol het van meet die veld oorheers en het reeds teen halftyd 14-6 voorgeloop.
Die span het in die tweede helfde soos ’n masjien oor Nelspruit geloop en die wedstryd met 64-6 beklink.
Die Spur-spelers van die wedstryd was die regtervleuel Jannie van der Merwe en agsteman Izan Green.
Van der Merwe het twee drieë gedruk en sewe verdoel. Christiaan Wessels en Erik de Vos het elk twee drieë gedruk.
Pieter Strech Streicher, Berty Visser, Deon Greef en Jean Olivier het ’n drie elk aangeteken.
Sasol se tweede span het Nelspruit 2 met 30 – 5 geklop.
Die halftydtelling was 11-0 in Sasol 2 se guns.
Edmund Soule (binnesenter) en André Schwab (slot) is aangewys as die Spur-spelers van die wedstryd.
Sasol 2 se drie-drukkers is Werno Smit, Werner le Roux, Karel-Pieter de Jager en Shaun Jacobs.
William Pretorius het een drie verdoel en met twee strafdoele geslaag en Gert Pieterse het een drie verdoel.
Sasol 3 het teen Standerton 2 uitgedraf.
Die eerste helfde was nog ‘n naelbytstryd en het die telbordjie op 12-14 in Standerton se guns geval.
Sasol 3 het in die tweede helfde met mening teruggeslaan en het die eindtelling na 71-28 opgejaag.
Sasol 3 se losskakel, Gert Pieterse, en reserwe-speler Werno Smit is aangewys as die Spur-spelers van die wedstryd.
Pieterse het drie drieë gedruk en met agt verdoelings geslaag.
Smit het drie drieë gedruk.
Dumie Mashaba het twee drieë gedruk en Dirk Lowies, Chris Grobler en Michael Bagopi het elk een drie gedruk.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here