Lynette Beer praat oor temperamente

0
1790

Bekende motiveringsspreker, Lynette Beer en pastoor Franeli Kirsten was die sprekers by die Vroue op hul Knieë-kamp wat vanaf 7 tot 9 April op Holfontein plaas buite Trichardt gehou is.
Jenny Vrey het die tweede Vroue op hul Knieë-kamp gereël.
Plaaslike kunstenaar, Geldah Simich het die aanbidding gelei.
Lynette Beer het gesê ware liefde stel nooit teleur nie.
Sy het oor die vyf liefdestale asook die vier verskillende temperamente, wat sy met kleure soos blou, groen, geel en rooi vergelyk, gepraat.
“As jy nie weet wie jy is nie, kan jy nie jou skeppingsdoel leef nie,” het sy gesê.
“Elke mens het ’n emosionele tenk wat gevul moet word met liefde.
“Dit is belangrik dat jy die mense in jou lewe se liefdestale ken.
“”n Mens kry seer in die lewe, maar ons het keuses wat ons met die pyn en seer in ons lewens doen.
“Jy hoef nie die produk van jou omstandighede te wees nie.
“Die Bybel sê ons moenie kwaad met kwaad vergeld nie, die wraak kom ons nie toe nie.
“As daar van jou gesteel is, het God altyd ’n ander plan om vir jou terug te gee.
“Dawid het eers 20 jaar nadat Samuel hom as koning gesalf het, koning geword.
“Hy het intussentyd leer harp speel en slingervel gooi.
“Wat maak jy met jou af-tyd, terwyl jy wag?”
Sy het die vroue aangeraai om op te hou om hul lewens volgens emosies te leef en volgens wat hulle dink goed is.
Sy het hulle aangeraai om eerder te kyk wat die Bybel sê en volgens dit te leef.
“Dikwels gebeur dinge in ons lewens as ’n resultaat van ons eie toedoen en verkeerde keuses. Ons moet ’n hart en gesindheid soos God s’n kry.
“God sê in sy Woord as ons wil hê Hy moet ons seën, moet ons vergewe en ander liefhê.
“Om God se seën te hê moet ek skoon en rein voor Hom staan.”

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here