Marietha Cole, skoolhoof van Laerskool Secunda en Jana du Plessis deel ’n oomblik.

Sowat 550 vroue het op 25 Maart Laerskool Secunda en Lynco se vroue-oggend bygewoon.
PJ Pretorius en Arno Jordaan het was die gaskunstenaars.
Marietha Cole, skoolhoof, het die oggend geopen en vroue verwelkom.
Die spreker was Jana du Plessis, ’n dapper vrou wat al verskeie kere kanker oorwin het.
Sy het egter haar been weens kanker verloor.
Jana het provinsiale kleure in netbal, atletiek, landloop en tweekamp verwerf.
Sy is as Mevrou Bloemfontein aangewys en as Finesse se Inspirasie Vrou vir 2013.
Jana het haar lewensverhaal met vroue gedeel en gesê Spreuke 16:9 wat lui: ‘Die hart van die mens dink sy weg uit, maar die Here rig sy voetstappe,’ het in haar lewe waar geword.
“Soms vra ons die Here vir iets en dit gebeur nie altyd soos wat ons hoop nie,” het sy gesê.
Kanker is in 2006 in Jana se enkel gediagnoseer.
Sy het bly glo sy gaan gesond word en het aangehou lewe spreek.
Hoewel die kanker nie verder as haar enkel versprei het nie, moes haar been steeds geamputeer word om haar lewe te spaar.
Ná die operasie het Jana se lang pad van 24 uur-lange chemobehandelings begin.
“Ek het twee dinge geleer. Eerste: ’n Mens aanvaar klein goedjies soos hare en ledemate as vanselfsprekend, totdat jy dit nie meer het nie. En die tweedens: moenie in die spieëlbeeld vaskyk nie, kyk na jou hart.
“Wat weerspieël jou hart na ander mense?
“Die uiterlike moet nooit belangriker as die innerlike wees nie.”
Jana en haar man, Ian, het twee kinders, self al was die kanse op ’n tweede kind skraal.
Sy het geleer om God onvoorwaardelik vertrou toe Hy haar hartsbegeertes om ’n kunsbeen te hê waarmee sy hoë hakskoene kan dra, bewaarheid het.
Sy het weer begin sport doen en ’n tweede kunsbeen is deur ’n weldoener vir haar geborg.
Sy het aan die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskappe vir gestremdes deelgeneem en ’n goue medalje ingepalm.
“Onthou net, die dinge in die lewe wat jy as vanselfsprekend aanvaar, is dinge waarvoor ander mense bid.
“Jy sit dalk hier en dink nie dat jou gesondeheid van jou af weggeneem kan word nie.
“Wat in jou lewe aanvaar jy as vanselfsprekend?”
Jana is in Mei 2012 vir die tweede keer met kanker gediagoseer.
Dié keer was dit in haar longe.
“Die dokter het vir my gesê ek moet ‘memories’ bou saam met my kinders, want tyd is nie aan my kant nie.”
Jana het ’n ope long-operasie ondergaan en die Here het haar herinner aan beloftes uit Job.
Vir haar het dit ’n nuwe begin beteken.
“My boetie het my aan Josef herinner. Vir Josef was die tronk en die put dalk ’n af, maar vir God was dit ’n op om Josef na hoër plekke te neem.”
Daar was agt kolle op Jana se longe. Vriende het vir drie maande lank saam met haar gevas en gebid vir genesing en drie maande later was daar geen kolle op haar longe nie.
Sy meen dinge is nie altyd veronderstel om vir ’n mens sin te maak nie.
“Dit is beter om God te ken as om antwoorde te ken.
“God het my gewys Hy sal nooit beloftes maak en dit nie nakom nie.
“God sal op Sy tyd beloftes in vervulling laat kom, nie op ons tyd nie.”
Sy het egter begin vrees toe sy vir die derde keer met kanker gediagnoseer is.
“Die Here het vir my gesê, kyk op na My toe nie na die kol nie.
“Die oomblik toe ek na Hom begin kyk, was die kol weg.”
Sy is verlede Oktober weer met kanker gediagnoseer en sy was vir die eerste keer in 10 jaar kwaad vir die Here.
“Dit is maklik om te twyfel as jy met feite sit en dan is dit moeilik om op God se beloftes te staan.
“Wat is jou situasie?
“Sê net vir die Here: ‘Ok, ek rus in U stilte’.”
Hoewel Jana in Desember weer chemo-behandeling moes ondergaan en daar weer vier kolle op haar longe en een op haar enigste been is, het sy besluit om by die Here se voete te sit.
“Dit is ’n fees om te kan leef en om vir God te lewe.
“Wat maak jy met die geleende tyd wat God vandag vir jou gee?”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here