The Bulletin Newspaper, Secunda, Simon Miller, Simon oorleef ongeluk
Simon Miller kan weer motor bestuur na sy motorfiets-ongeluk.

Die feit dat Simon Miller (41) vandag leef, is ’n wonderwork.
’n Motorfietsongeluk op 22 Oktober tussen Kinross en Devon het hom in ’n koma gelaat en dokters het hom twee dae later breindood verklaar.
Simon het met sy motorfiets geval en die groep motorfietsryers wat saam met hom was, het gesien hy is bewusteloos en het die nooddienste ontbied.
Sy se ma, Gerda, was op daardie stadium besig om die Zello toepassing (app) vir ’n vriendin op haar foon te laai.
“Die boodskap het op Zello deur gekom dat daar ’n motorfiets ongeluk was, maar ek het nie gedink dit is Simon nie,” het Gerda gesê.
“My man, het egter dadelik gesê dit is Simon.”
Simon is na die Netcare N17 Hospitaal op Springs geneem.
“Hy was ’n P1 pasiënt, wat beteken hy is baie ernstig en kry onmiddelik aandag met sy aankoms by die hospitaal,”het Boet Miller, Simon se pa, gesê.
Dokters het, nadat daar x-strale van Simon geneem is, bevestig dat hy ’n traumatiese breinbesering (TBI) opgedoen het.
Hy het ook albei sy sleutelbene en twee ribbes gekraak en een gebreek.
Hy is dadelik oorgeplaas na die intensiewe sorg-eendheid van die hospitaal en in ’n mediese koma geplaas en die neurochirurg moes ’n buis in Simon se brein plaas om drukking en bloeding te monitor.
Dié buis is ingesit sonder vedowing – juis om te sien of Simon op die pyn sou reageer, maar hy het geen tekens van gevoel getoon nie.
Die neurochirurg het vasgestel dat Simon ’n beroerte gehad het, maar hy kon egter nie sê of dit voor of na die ongeluk gebeur het nie.
Die dokters het ’n paar dae later vir Boet en Gerda gesê hulle het baie slegte nuus, en Simon is breindood verklaar.
Simon se vriende en familie moes die Woensdag na die ongeluk van hom gaan afskeid neem.
Woensdag het aangebreek.
“Jy wil eintlik nie die dag begin nie, want hoe neem ’n mens afskeid van jou kind,” het Gerda gesê.
“Ek was eers baie kwaad vir die Here.
“Maar daardie oggend het God ons ’n boodskap gegee en ’n kalmte en rustigheid het oor ons gekom.
“Ons het geweet God is in beheer.
Daar was deur die loop van die dag sowat 40 mense by Simon se bed wat vir hom gaan bid het.
“Mense wat ons nie eers ken nie het vir hom kom bid en daar is orals vir hom gebedsgroepies begin.
“Die liefde en omgee van mense het deur whatsApp-boodskappe, SMSe, e-posse en oproepe begin instroom.
“Dit was net ’n ongelooflike dag, ons het ons Hemelse Vader se teenwoordigheid in Simon se kamer ervaar” het Gerda gesê.
Die Woensdag het daar steeds mense vir Simon gaan bid, onder andere drie onbekende pastore.
Een van die pastore het om 12:00 oor Simon geprofeteer en gesê Simon gaan teen 14:00 begin beweeg.
“Om 14:20 het Simon sy skouer beweeg.
“Ek het die suster geroep om te kom kyk en sy het gesê dit is net ’n refleks van sy liggaam.
“Ek het gesê nee my kind het beweeg,” het Gerda gesê.”
“Ons het aangehou om met hom te praat want ons het geglo hy kan ons hoor.
“’n Rukkie later het hy eers my hand saggies gedruk en net daarna sy pa se hand meer ferm.”
Simon het later sy voet beweeg toe sy ma hom gekielie het.
“Daardie eerste beweging na sy ongeluk was die grootste geskenk van die Here.
“Toe het ons geweet, ons God is groot.
“Simon gaan ten volle herstel.
“God gaan hom ’n tweede kans gee en daar het Simon met sy hand veilig in God se hand sy ongelooflike pad na herstel begin.”
Simon het klein treetjies gegee op sy pad na herstel en teen die Sondag was sy oë heeltemal oop.
Die neurochirurg wat die buis uitgehaal het, het vir die Millers gesê: “I am an instrument in God’s hand, I had no hope for Simon, and I declared him brain dead, but then God took over your son’s life, Simon is a miracle of God.”
“En so het ons elke dag die een wonderwerk op die ander ervaar,” het Gerda gesê.
Simon is op 14 November oorgeplaas na ’n rehabilitasie-hospitaal waar hy weer van voor af moes leer loop, eet en praat.
Hy is op 6 Januarie ontslaan en kon huis toe gaan.
“Ek het gewonder of ek ooit weer bevoeg sou wees om te werk,” het Simon wat ’n gekwalifiseerde elektrisiën is, gesê.
“Ons het dit net een dag op ’n slag gevat en was nie bekommerd oor die dag van môre nie, ons het net elke dag dit wat God op ons pad sit gehanteer, sonder enige vrese,” het Gerda gesê.
Simon het so verbeter dat die neurochirurg sy medikasie verminder het en gesê het hy kan dadelik weer begin motor bestuur.
Gerda en Boet het Simon in Desember weer hospitaal toe geneem om die personeel te ontmoet en al die personeel was bly om hom te sien.
“Hulle het om hom kom dans en foto’s en video’s van hom geneem en gesê hulle kan nie glo hy staan voor hulle nie.
“Hy is die N17 se lewende “miracle of God’ het hulle gesê.
“God het beheer van Simon se lewe geneem.”
Nog ’n wonderwerk is dat Simon ’n paar dae voor sy ongeluk opgegradeer het na ’n hoër plan op sy mediese fonds en al sy mediese kostes is dus gedek.
“Simon het, toe hy uit die koma wakker geword het, gesê hy was in die hemel,” het Boet gesê.
“Hy het drie keer gedurende sy herstelproses getuig van sy ervarings in die hemel.
“Hy het vertel hoe mooi die voëltjies en blommetjies is en dat hy dit vir ons wil gaan wys.
“Maar hy kan dit nou glad nie onthou nie,”
Die Millers wil almal wat boodskappe in die tyd gestuur het, geskakel het, gebid het en hulle op enige ander manier ondersteun het in dié tyd, bedank.
“Daardie boodskappe en opregte omgee het ons as ouers en familie gedra,” het Gerda gesê.
“Woorde sal nooit kan getuig van ons dankbaarheid nie.
“Die krag van geloof, gebed en volle vertroue in ons hemelse vader het ons deur hierdie tyd gedra.
“Ons sal nooit ophou getuig oor hoe groot God is nie.
“Moet nooit moed opgee nie, al is die lewe hoe swaar, bly net bid, glo en vertrou op die Here.
“As Simon se getuienis net vir een persoon hoop kan gee, dan maak dit alles die moeite werd.”
Gerda het dagboek gehou van elke dag en foto’s en videos geneem gedurende Simon se herstelproses.
“Ons het al die boodskappe gehou.
“Ons het hom alles gewys en hy was soveel keer saam met ons so hartseer en dan het die trane gerol, maar dit was trane van opregte dankbaarheid,” het Gerda gesê.
Simon kan nou weer begin werk en is dankbaar vir die tweede kans op lewe.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here