Johann oefen vir Suid-Afrikaanse kampioenskappe

0
1129
Johann de Bruin in aksie tydens ’n powerlifting kompetisie.

Plaaslike rugbyspeler Johann de Bruin (26), het ’n nuwe stokperdjie ontdek.
Die powerlifting-gogga het hom gebyt ná hy ’n artikel oor dié sport gelees het.
“Ek het gedink ek sal nie te sleg daarin vaar nie, want ek weet wat ek in die gimnasium kan doen,” het De Bruin gesê.
Hy het laas jaar dié sport begin beoefen en het in Augustus by die Gauteng powerlifting-kampioesnskappe gekwalifiseer om in Maart vanjaar aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe op Potchefstroom deel te neem.
Powerlifting is ’n kragsport en deelnemers moet gewigte optel in drie verskillende posisies, naamlik vanaf ‘n bankie (bench presses), vanuit ’n hurkende posisie (squats) en statiese posisie (deadlifts).
Die gewig wat De Bruin kan optel is 300kg deadlift, 155kg bench press en 245kg squat.
Die rekord in Suid-Afrika is 315kg deadlift, 200kg bench press en 300kg squat.
De Bruin se volgende mikpunt ná die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, is om aan die Afrika-kampioenskappe wat later vanjaar plaasvind, deel te neem.
Hy slyp ook sy tande vir die Wêreld-kampioenskappe oor twee jaar.
Hy het op Boksburg sy hoërskool-loopbaan voltooi en ná skool Secunda toe getrek waar hy vir Sasol-klub rugby gespeel het.
Hy was vir ’n paar jaar die kaptein van die eerste span, maar hy het rugby nou eers verruil vir powerlifting.
“Ek weet nie wanneer ek weer rugby gaan speel nie, maar ek het nog nie klaar rugby gespeel nie,” het hy gesê.
Hy oefen vyf dae per week in die gimnasium en sê hy fokus nou op ander oefeninge in die gimnasium as wat hy gedoen het toe hy nog rugby gespeel het.
“Vir rugby het ons meer fiksheid- en uithouvermoeë-oefeninge gedoen.”
Hy probeer so een keer elke twee maande by ’n gimnasium uitkom wat spesifiek vir powerlifting is.
Dié gimnasiums is egter net in Gauteng.
Hy speel al van sy skooldae af rugby en het ook vir die o.19- en o.21 Puma-span uitgedraf.
“Toe was dit nog die droom om vir die Springbokke te speel,” het hy vertel.
“Daardie droom is nou om my Springbok-kleure in powerlifting te kry.”
Hy het sy oefenmaat, Francois de Lange, wat self nie aan powerlifting deelneem nie, bedank vir sy opofferings en motivering.
De Bruin werk as tegniese tekenaar by MegChem en is getroud met Tanya de Bruin.
As enige iemand hom wil borg en ondersteun, skakel hom by 084 706 9192.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here