Johan praat oor grense en dissipline

0
461

Johan Smith, bekende leraar van N.G. Moreletapark en skrywer, het op Woensdag, 25 Januarie sy preekreeks oor grense en dissipline by die N.G. Kerk Oos/Goedehoop-gemeente afgesluit.
“Grense en dissipline is die belangrikste in ’n kind se opvoeding, en verhoudings is tweede belangrikste,” het Johan gesê.
Volgens hom is dissipline om die gevolge van jou dade te dra.
“Stel ’n grens met jou kinders en as hulle nie daarby kan hou nie, moet hulle die gevolge dra,” het hy gesê.
Die oorsprong van dissipline kom van die Bybel af.
“God se verhouding met Sy volk was in plek. Pa en Ma, sorg dat jou verhouding met jou kind in plek is.
“Dan kom die waardes waarvolgens die Israeliete moes leef en dan kom die reëls.
“Kinders moet hul ouers se grense in die huis eerbiedig ter wille van ’n toekoms – die beloofde land.
“Die basis is liefde. As jou verhouding met jou kind nie in plek is nie, het jy groot probleme met jou kind met dissipline en rebellie.
“Twee noodsaaklike belangrike eienskappe van enige ouer moet wees liefde, sodat jy ’n verhouding met jou kind kan hê, en dan grense.”
Johan het ’n spreekwoord aangehaal wat lui: ‘The ability to tolerate being hated and seen as bad, is a parent’s next most important quality.’
“Jy as ouer, moet kan ‘tolerate to be bad’.
“Sê vir jou kind: bou ’n brug en kom oor dit.
“Hoekom, want jy is lief vir jou kind en het ’n verantwoordelikheid teenoor die Here.
“Ons sit vandag met bang en ‘insecure’ ouers.
“Jy doen jou kind nie ’n guns om elke keer agteroor te buig as hulle kom met ’n versoek nie.
“Soms kan jy jou kind se versoek toestaan as hy vir jou meer verantwoordelikheid wys,” het Johan gesê.
Hy het ’n spreekwoord aangehaal wat lui: ‘Just because a child is in pain, does not mean that something bad is happening. Something good may be occurring such as his coming to grips with reality for the first time.’
“Jou kind kom Sondagaand en sê vir jou hy het ’n taak wat Maandag moet in wees.
“Ma spring op en help met die taak.
“Wat het jy sopas gedoen?
“Jy het verseker dat jou kind daai gedrag gaan herhaal.
“Laat jou kind die pyn van swak punte vat en dit sal nooit weer gebeur nie.
“Dit is jou kind se punte, nie joune nie.”
Hy het gesê dit is die ouer se rol en verantwoordelikheid om grense te stel en dat kinders nie met grense gebore word nie.
“Ons as ouers moenie die gevolge dra van ons kinders se negatiewe gedrag nie, ons moet dat hulle dit self dra, anders leer hulle nie.
“Die grootste onreg wat jy jou kind kan aandoen, is om hom sonder grense en dissipline groot te maak.
“Ons fokus te veel op die 12 onderskeidings en sport en te min op ons kinders se karakter,” het Johan afgesluit.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here