Familie-tyd is belangrik

0
2841
Johan Smith het vanaf Sondag tot Woensdagaand by die N.G. Kerk Oos/Goedehoop-gemeente opgetree.

Die bekende leraar van N.G. Moreletapark en skrywer, Johan Smith, het vandeesweek by die N.G. Kerk Oos/Goedehoop-gemeente opgetree.
Johan het oor families en kommunikasie gepraat.
Volgens statistieke wat hy gewys het, praat oures net twee ure per week met hul kinders.
“Voordat die televisie uitgekom het, het ons gehalte gesinslewens gehad,” het Johan gesê.
Volgens dié statistieke, het ’n gemiddelde skoolkind teen die ouderdom van 12 jaar reeds 15 000 ure voor die televisie bestee, 11 000 ure by die skool en net 2 000 ure met sy ouers.
Teen die tyd wat dié kind die skool verlaat, het hy reeds 240 000 sekstonele, 800 000 geweldstonele en 192 000 moorde op televisie gesien.
“En wat is die grootste probleme in ons land vandag?” het Johan gevra.
Volgens hom is luister een van die grootste dade van liefde wat ’n mens aan enige iemand kan betoon.
“60 jaar gelede, was die gemiddelde aandete-tyd 90 minute om die tafel, vandag is dit 12 minute voor die televisie.
“Die gemiddelde ouer het net 39 minute per week van sinvolle kommunikasie met hul kinders.
“Daar is ’n absolute verlange na intimiteit in ons lewens en verhoudings.”
Hy het Mattheus 7:9-11 aangehaal en gesê ouers weet nie meer wat die verskil tussen brood en klip en ’n vis en ’n slang is nie.
“Kinders weet dit ook nie en vra vir die nuutste klere, tegnologie ensovoorts, en ons as ouers gee soms net.
“Ek het nie ’n probleem daarmee as ouers vir hul kinders goed gee nie, moet net nie dat ‘stuff’ jou rol in hul lewens inneem nie.
“En soms moet jy vir jou kind nee sê, want hulle weet nie altyd waarvoor hulle vra nie en vra soms vir ’n slang of klip,” het hy gesê.
Hy het ’n brief aangehaal wat sy dogter vir hom geskryf het wat lui: ‘Dankie dat pappa gekies het om nie deel te wees van julle generasie se ‘Nowhere Pa’s’ nie.
“Dit het my so diep geraak, ek het nie besef daar is ’n generasie van ‘Nowhere Pa’s’ nie,” het Johan gesê.
“’n Pa se aandag en liefde kan jy nie met geld koop nie.
“Sukses in die lewe is om ’n goeie pa te wees, om ’n goeie vriend te wees en ’n goeie man vir jou vrou.
“Is jy nog met sukses by me, myself and I?”

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here