Wapeneienaars se steun gevra

0
766

Die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging is nou op grootskaal besig om geld in te samel om hul regskostes te betaal in hul hofaansoek teen die Minister van Polisie.
SA Jagters het ‘n aansoek in die Noord Gautengse Hooggeregshof gebring teen die Minister van Polisie oor die arbitrêre hantering van laat aansoeke om vuurwapenlisensies te hernu.
Met dié aansoek wil SA Jagters die staat verplig om twee artikels van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) te wysig.
Dié saak sal op 25 en 26 April aangehoor word.
Die SA Jagters se frustrasies het reed in 2009 begin met die inwerkingtreding van Wet 60 (nuwe wet) wat alle vuurwapenseienaars verplig het om hul lisensies voor 30 Junie 2009 te hernu.
’n Geraamde 1,3 miljoen mense sou vervolg word bloot omdat hulle nie betyds aansoek gedoen het om hulle lisensies te hernu nie.
Die Noord Gautengse Hooggeregshof het destyds ’n dringende aansoek in SA Jagters se guns beslis.
Die hoofaansoek het versoek dat sekere van die oorgangsmaatreëls wat in Wet 60 vervat is, ongrondwetlik verklaar word.
In ’n gepaardgaande dringende aansoek is die Hooggeregshof versoek om alle lisensies wat ingevolge die vorige wet uitgereik is, as geldig te beskou totdat die hoofaansoek afgehandel is.
In 2011 het die eerste vuurwapenlisensies wat ingevolge dié nuwe wet uitgereik is, verval en moes vuurwapeneienaars weer aansoek doen om dié lisensies te hernu.
Artikel 24 van die nuwe wet vereis dat ’n individu minstens 90 dae voordat ’n lisensie verval, moet aansoek doen om dit te hernu.
Die wet maak nie voorsiening vir ’n laat aansoek vir die hernuwing nie, selfs al sou die lisensiehouer ’n geldige rede hê.
Sedert 2011 het die polisie egter laat aansoeke vir die hernuwing van lisensies aanvaar, verwerk en nuwe lisensies uitgereik.
In Februarie verlede jaar het die die reëls weer verander.
In beginsel word individue wat aan die voorwaardes van Wet 60 voldoen het, nou gestraf.
Hulle kan vervolg word of hulle wapens verloor, terwyl diegene wat glad nie aan die vereistes van Wet 60 wet voldoen het nie geensins benadeel word nie.
Dit is onregverdig, onbillik en onredelik.
Die nuutste aansoek wat SA Jagters nou in die Hooggeregshof bring, versoek die hof onder andere om Artikels 24 en 28 van die Wet ongrondwetlik te verklaar; die staat te verplig om die konsepwysigingswet wat reeds in 2015 bekendgestel is, af te handel en in werking te stel; en om alle nuwe lisensies wat reeds verval het, as geldig te ag totdat die wetswysiging vir ’n hersiene hernuwingproses in werking getree het.
Die regskostes om vir die hofaansoek voor te berei het reeds R650 000 beloop. Hierdie koste kan verder verhoog met ’n soortgelyke bedrag tot die hofaansoek aangehoor is.
Daar is ’n beraamde 175 000 wapenlisensies wat reeds verval het en nie hernu is nie.
Lede van die SA Jagters meen as elkeen van die eienaars van hierdie wapens ’n donasie van slegs R10 aan die Regshulpfonds sou maak, sal genoeg geld beskikbaar wees om die hofaansoek af te handel sonder om lede te vra vir bydraes.
Enigeen wat meer inligting wil bekom oor byvoorbeeld die bankbesonderhede en die pryse wat op die spel is, kan Slingervel skakel by 017 631 3656.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here