Adriaana geniet musiek

0
729

Adriaana Beneke van Secunda is ’n vrou van vele talente.
Sy het sowat drie jaar gelede begin skilder en sy kan ook vyf verskillende musiek-instrumente bespeel.
“Ek het my talent van my pa geëerf,” het sy gesê.
“God leer my steeds elke dag.”
Haar oorlede pa, Adriaan (Attie) Odendaal, het op Balfour gewoon en hy het haar van kleins af al geleer hoe om die konsertina te speel.
Hy was ’n meester met die konsertina, en het selfs konsertinas gemaak.
Een van die konsertinas wat hy gemaak het, is so klein soos ’n 50c-stuk.
Adriaana kan die kitaar, trekklavier, konsertina, klavier en die mondfluitjie speel.
Sy kry steeds heimweë as sy die trekklavier speel en sê dit herinner haar aan haar kinderdae.
“My pa het altyd musiek gemaak en in ’n orkes gespeel,” het sy gesê.
Haar pa het ’n plaat ook opgeneem en sy het as kind gereeld saam met haar pa musiek gemaak.
Adriaana gee tans kitaarlesse en kan ook kitare instel en bruggies opsit.
As sy nie agter een van haar instrumente is nie, geniet sy dit om te skilder in haar vrye tyd.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here