Dwelms: Pad van verwoesting

0
2279
Gerhard Venter by sy slaapplek in ’n stegie by Friendly Grocer.

Dwelms het Gerhard Venter (26) ’n lewe op straat besorg.
Gerhard het heroïen begin gebruik toe hy 21 jaar oud was en hy sê dit was vriende wat hom daaraan blootgestel het.
“Daai goed het my lewe verwoes,” het Gerhard verlede week aan The Bulletin vertel.
Al sy aardse besittings bestaan uit ’n rugsak, ’n paar komberse en die klere aan sy lyf.
Hy deel snags die stegie by Friendly Grocer met nog sowat vyf ander haweloses.
Hy het ’n verband om sy regterarm en beweer dat ’n spinnekop hom daar gebyt het, vermoedelik ’n vioolspinnekop of ’n botterspinnekop.
Lede van Secunda-polisiestasie het vir Gerhard na Gert van Zyl verwys wat dwelmverslaafdes help. Gerhard is na DisChem geneem waar hy salf en medikasie vir die wond gekry het.
“Ek wil vir die tannie by DisChem wat vir my salf betaal het dankie sê,” het Gerhard gesê. Hy het op Secunda beland ná ’n vriend hom glo hierheen gelok het met die vooruitsig van ‘n werksgeleentheid.
Dié vriend was egter nooit hier om hom te ontmoet nie.
Volgens Gerhard woons sy ouers op Middelburg, maar trek hulle baie swaar.
“Ek wil hulle nie nog opsaal met my probleme ook nie,” het Gerhard verduidelik.
Hy sou op 5 Desember na ’n rehabilitasiesentrum vertrek het, maar ’n week later is hy by die verkeerslig by die mall gesien waar hy met ’n bordjie om sy nek gestaan en geld bedel het.
– Jana Oosthuizen
Tekens van dwelmmisbruik:
Die persoon is gereeld moeg.
• Slaap baie bedags en min snags
• Die persoon is baie senuweeagtig en besig met sy
hande
• Oë is glaserig of wit of bloedbelope (afhangende van
watter dwelms hy gebruik)
• Die persoon is geïriteerd
• As hy ’n roker is, rook hy baie meer as normaalweg
• Hy is buierig en gaan van gelukkig tot kwaad tot
hartseer in ’n kort tydperk
• Hy het geen respek vir ander nie
• Geld en enige items in die huis (van selfone tot
televisies) raak weg
• Hulle eet min, maar drink baie gaskoeldrank
• Lyf trek styf as hulle slaap
• Kou baie kougom
Wat sê ’n kenner:
Volgens Gert van Zyl wat vier jaar gelede die New Life-ondersteuningsgroep vir dwelmslawe gestig het, het Gerhard wel om hulp by hom aangeklop.
“Ek het vir hom vorms gegee om te voltooi sodat ons vir hom aansoek by ‘n rehabilitasie-sentrum kan doen.
“’n Paar weke later het ek hom by die verkeerslig gewaar en vir die vorms gevra, maar Gerhard het toe beweer hy is skoon.”
Gert betwyfel dit.
Hy was self ‘n dwelmslaaf.
Volgens hom het sy verslawing begin toe hy op 14-jarige ouderdom dagga begin rook het.
Op die ouderdom 16 het hy sy eerste Ecstacy-pil gesluk en kort daarna het hy na LSD oorgeslaan.
Ná matriek was die LSD nie meer genoeg nie en het Gert begin om CAT te snuif.
Hy was vir bykans 10 jaar aan CAT verslaaf.
Sy pa het hom vir die tweede keer na ’n rehabilitasie-sentrum gestuur waar hy sy hart vir die Here gegee het en sy lewe toe begin verander het.
“’n Rehabilitasie-sentrum kan ’n mens net tot op ‘n punt help. Jy kan skoonkom, maar nie vrykom sonder God nie,” het Gert gesê.
“Dit is hoe ek skoonbly, met die Here aan my kant.”
Kry hulp vir dwelmverslawing:
Gert is al vier jaar skoon en het weekliks ’n ondersteunigsgroep waar hy verslaafdes help om vry te kom en hulle bemoedig.
Hy help hulle dan om by ’n rehabiltasie-sentrum op Witrivier uit te kom.
“Ouers besef nie hoe groot die probleem met dwelms is nie.
“In die meeste gevalle het die ouers nie ’n benul wat om te doen of waarmee hulle te doen kry as hul kinders aan dwelms verslaaf is nie.
“Iemand wat dwelms gebruik gaan emosioneel dood binne en voel niks vir niemand nie.
“Al waaroor daai ou ‘worry’, is sy volgende ‘fix’.
“Dit is maklik vir ander mense om te sê kom skoon, maar didt is nie so maklik nie.”
Gert se droom is om ’n rebahilitasie-sentrum op Secunda oop te maak.
Die rehabilitasie-sentrums is meestal vol en verslaafdes moet soms tot twee maande wag totdat daar vir hulle plek in die sentrums is.
Sy ondersteuningsgroep begin weer op Maandag, 9 Januarie om 19:00 by Lighthouse Kerk in die sentrale sakekern en enige iemand is welkom.
Hy beplan ook om volgende jaar ’n inligtingsessie spesifiek vir ouers te hou waar ouers vra kan vra en raad kan kry.
Vir meer inligting, skakel Gert by 076 325 9144.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here