Kapt Smit praat oor medaljes

0
591
Kapt. Johan Smit wys sy baadjie met medaljes.

Kapt. Johan Smit kry oor drie jaar sy medalje vir 40 jaar diens in die polisie.
Hy het in 1979 by die polisie se spesiale wag-eenheid aangesluit en het eers in Pretoria en later in Kaapstad gewerk.
Hy het sy vrou, kapt. Joy Smit, in die polisie ontmoet toe die twee destyds saam patrollie gery het toe hulle albei op Sishen by die polisie gewerk het.
Kapt. Johan Smit het op verskeie dorpe gewerk voordat hy in 1990 bevorder is tot adjudant-offisier by Bethal Polisie-stasie.
Hy het ook grensdiens verrig en by die grense van Lesotho, Mosambiek, Swaziland en Namibië gewerk.
Hy en Joy het albei al by verskillende afdelings van die polisie op Secunda gewerk en in 2010 het kapt. Johan Smit kapelaan geword.
Nie almal weet wat al die medaljes beteken wat polisielede dra nie.
Kapt. Smit verduidelik dat die kapelane pers skouerbelegsels (epoulette) dra.
’n Wye verskeidenheid medaljes word in die polisie uitgereik waarvan die hoogste die goue of silwer kruis vir dapperheid is.
Kapt. Smit het tydens sy 37 jaar diens in die polisie al agt medaljes ontvang wat insluit die Suid-Afrikaanse Polisie-medalje vir bekamping van Terrorisme met ’n balkie (grens-medalje), medaljes vir 10, 20 en 30 jaar getroue diens, die 75 jaar-feesmedalje, die Almagmasie-medalje toe al die polisiemagte in Suid-Afrika verenig is na 1994, die 10 jaar-herdenkingsmedalje en die Wêreldbeker Sokker 2010-medalje.
Die polisie gee ook ander medaljes en sertifikate van eervolle vermelding aan polisielede en mense in die gemeenskap.
Die honde en perde in die polisie word ook beloon met medaljes vir dapperheid.
Medaljes wat deur die polisielede self verwerf is, word aan die linkerkant gedra terwyl medaljes wat van ouers of grootouers geërf is, aan die regterkant vertoon word.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here