Louis is ewe tuis met ‘n kwas of byekas

0
1423

Louis Trichardt is ’n man van vele talente – van skilder tot byeboer tot fotograaf.
Sy boerdery met bye het eintlik begin ná ’n swerm bye in ’n gat by sy huis ingetrek het.
Hy het hulle laat verwyder en gif gespuit, maar ’n maand later was hulle net weer terug.
“Hulle wou net in ons wendyhuis intrek,” het Louis gesê.
Hy het besluit die enigste manier om dié probleem hok te slaan was om vir die bye ’n vangkas en broeikas te kry sodat hulle nie in sy wendyhuis intrek nie.
Hy het die nodige toerusting, asook ’n boek oor bye gaan koop en dieselfde middag nog, net ná hy die kaste neergesit het,was die swerm bye terug en gereed om in te trek, maar dié keer in die vangkas in en nie sy wendyhuis nie.
Dit was vier jaar gelede.
Deesdae gaan help Louis om bye te vang en verskuif as mense probleme met bye by hul huise het.
“Die hele ding van bye uithaal is om die koningin uit te kry, die res van die bye sal nie trek as die koningin nog in die gat of hul nes is nie,” het Louis gesê.
“’n Mens moet die nes fisies uitmekaar haal en as mens bye uitrook, dink hulle die omgewing is aan die brand en dit is hoekom hulle dan uittrek.
“Ek vat ’n leë broeikas saam en as ek die koningin daarin insit, sal die res van die swerm self ook soontoe gaan.
“Ek hervestsig dan basies net die swerm op ’n ander plek.”
Daar kan tot 20 000 of selfs meer bye in ’n broeikas wees, dit hang egter af van hul omgewing en hoeveel kos daar is.
Dit is nie aldag maklik om bye uit te haal of ’n byeboer te wees nie en daar is baie gevaarlike aspekte van dié beroep.
“As ek ’n nes oopmaak is daardie bye soms baie kwaad en aggressief.”
As Louis nie byeboer is nie, sal jy hom voor ’n skilderdoek kry met ’n kwas in sy hand of waar hy ander mense leer skilder.
Louis se liefde vir kuns kom al van sy laerskooldae af toe hy in die klas gesit en prentjies teken het.
“My gedagtes het altyd gedwaal as die juffrou gepraat het,” het hy gesê.
Hy het egter eers 13 jaar gelede begin skilder.
Hy het in ’n kunssinnige familie grootgeword en sy pa was in ’n kunsskool.
Sy pa se neef is die bekende Karel Trichardt en sy familielede aan sy pa se kant was gereeld op die verhoog of het pottebakkery beoefen.
Louis was in ’n gewone hoofstroom-skool en het op Secunda gematrikuleer.
Hoewel sy pa hom altyd raad gegee het met sy kuns, het hy hom ook aangemoedig om ’n ander kwalifikasie buiten kuns te kry omdat dit baie moeilik is om ’n bestaan uit kuns te maak.
Louis het ná skool bedryfsingenieurswese gaan studeer, maar nie klaar gemaak nie.
Hy is weermag toe ná sy eerste jaar van studies en daarna het hy op Secunda gewerk as personeelbeampte.
Hy het later nadat die maatskappy waarvoor hy gewerk het, personeel afgelê het, sonder werk gesit vir ’n paar maande.
Hy het weer werk gekry by Sasol en vir langer as vir jaar daar gewerk toe hy bedank het en saam met sy pa en broer ’n advertensie-onderneming begin het.
Dit was lang ure en weens kliënte wat nie betaal het nie, het sy pa besluit om dié onderneming toe te maak.
Louis het egter nog aangegaan met die advertensie-onderneming en drukkery, want dit was al inkomste wat hy gehad het.
Hy het later illustrasies vir groot ondernemings begin doen en dié bestellings het begin instroom.
Hy het sy hand aan fotografie ook probeer en neem troues en ander funksies ook af.
“Ek het begin foto’s neem omdat ek ’n behoefte gehad het aan ordentlike verwysingsmateriaal vir my kuns en ook om ordentlike foto’s van my kunswerke te hê.
“Ek het toe vir my ’n groot kamera gekoop en geleer hoe hy werk.”
Louis het as stokperdjie radiobeheerde karretjies gery en het twee keer aan die wêreldkampioenskappe deelgeneem.
In 2006 was hy Indonesië toe om daar aan die Radiobeheerde Motor Wêreldkampioenskappe deel te neem en in 2008 was hy in die VSA.
Hy het in Suid-Afrika onder die top 10 geëindig met dié stokperdjie en hy was ook op die komitee van die radiobeheerde motor-klub.
Sy dogter het skilderklasse geneem en Louis het besluit om dit ook te probeer.
Na ’n paar jaar se klasse het hy by ’n ander kunsgroep op Secunda aangesluit en mense het hom genader en gevra of hy vir hulle sal kunsklasse gee.
Vandag het hy vier klasse weekliks en tussendeur doen hy drukwerk, skilder, verkoop heuning en haal byneste uit.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here