Van Wyks tree uit – nie af

0
1382
Pastoor Gerrit en Tracey van Wyk het die leisels oorgegee aan pastoor Pieter en Mercia Hugo by die PPK Immanuel-gemeente.

Pastoor Gerrit van Wyk het op Sondag, 30 Oktober sy laaste preek as pastoor by die PPK Immanuel-gemeente op Secunda, gelewer.
Gerrit en sy vrou, Tracey van Wyk, was vir 20 jaar die herderspaar by Immanuel-gemeente en vir 25 jaar in die bediening.
Hy het op Dinsdag, 1 November sy 65ste verjaarsdag gevier.
“Ek glo God deel ’n porsie uit aan elke geslag en soos wat ’n mens ouer word, het jy nie meer die energie wat die jonger mense het nie,” het Gerrit gesê.
“Ek glo dit is nou ’n nuwe seisoen vir my en Tracey.”
Sy preek Sondag het gegaan oor om in die regte seisoen in jou lewe te wees.
Hy het met dieselfde paar skoene waarmee hy 20 jaar terug vir die eerste keer gepreek het, Sondag weer by die kerk uitgestap.
Die gemeente het die herderspaar gegroet met ’n ete in die kerksaal en die nuwe herderspaar wat eenparig deur die kerkraad gekies is, Pieter en Mercia Hugo, het tydens die diens Gerrit en Tracey se voete gewas.
Hulle het ook egte mirre-olie aan Gerrit en Tracey oorhandig.
Tracey is bekend in die gemeenskap vir al haar projekte deur die jare wat sy altyd met passie aangepak het.
Sy beplan om steeds betrokke te wees in die gemeenskap.
“Ons tree net uit as pastoorspaar, ek het steeds ’n hart vir die gemeenskap,” het sy gesê.
Tracey was die afgelope 20 jaar betrokke by verskeie organisasies en projekte wat Kansa, die ATKV, Famsa en die trauma-sentrum insluit.
Die Van Wyks het ook die satteliet-beradingsskkool van Dr. Sarel van der Merwe op Secunda begin en sowat 80 mense, onder andere leraars, is deur dié beradingsskool opgelei.
“Dit is nooit te laat om jou roeping uit te leef nie,” het Tracey gesê.
“Moenie terugkyk na jou verlede nie, want jy kan vandag en môre nog ’n verskil maak. “Die Here gee ons elke dag ’n geleentheid om ons roeping uit te leef.”
Sy het die gemeenskap bedank vir hul ondersteuning die afgelope 20 jaar.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here