Sit die Va-Va-Voom terug in jou huwelik

0
666

Gretha Wiid het die gehoor vermaak met haar skerp sin vir humor by Laerskool Goedehoop se aand vir paartjies wat op Donderdag, 1 September in die Kruik-teater aangebied is.
Die titel van Gretha se praatjie was “Sit die Va-Va-Voom terug in jou huwelik”.
Sowat 700 mense het die aand bygewoon.
“Va-Va-Voom is werk vir party paartjies,” het Gretha gesê.
“’n Huwelik wat werk, is harde werk met baie ‘ups’ en ‘downs’.”
Gretha is bekend daarvoor dat sy nie skroom om oor seks te praat nie en baie reguit is.
“Ek sê wat ander dink en as almal van jou hou, lieg jy vir iemand,” het sy gesê.
Gretha meen in die begin van verhoudings of huwelikke vind die huweliksmaats uit waarvan hul lewensmaats hou, maar later doen hulle dit nie meer nie.
“As ons aanhou doen wat ons in die begin van die huwelik of verhouding gedoen het, sal baie huwelikke anders lyk.
“Jy kan kies of jy ’n huwelik of ’n verbond wil hê.
“Met ’n huwelik kan Binnelandse Sake ’n streep daardeur trek en dit ongeldig verklaar, ’n verbond maak dat ek my trots neerlê en luister na my hart.
“Alles gaan anders lyk as jy ’n verbond het, want dan het jy jou trots neergelê.
“Verbondsmaats veg vir iets groters.
“Elke huwelik wat werk, sê iets van die glorie van God en elke huwelik wat nie werk nie, verwond die volgende geslag.
“God se plan was nie egskeiding nie.”
Sy het die paartjies aangemoedig om mekaar ’n prioriteit te maak en gesê die huwelik bestaan uit baie jammer sê en baie oor begin.
“Ons elkeen kan ons eie storie skryf.
“Jy skryf jou storie, gaan skryf hom goed.
“Ek en my man werk hard aan ons huwelik en het besluit ons sal mekaar vergewe en soos Joshua wees, ons sal by die Jordaanrivier staan totdat God ons help.
“Ek het ’n droom in my hart dat my kinders slegs by een ma en een pa sal kom kuier en dat die volgende generasie ’n heel generasie sal wees.”

img_9162

 

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here