Boere vang graan-diewe

0
732
Dis oestyd op Hans Meyer se plaas.

Verskeie boere op die Oostelike Hoëveld het die afgelope twee maande onder oeste-diewe deurgeloop en na raming gesamentlik sowat R1 miljoen se skade gely.
Boere tussen Charl Cilliers, Leandra en Standerton het vroeg Saterdagoggend nege verdagtes in Standerton vasgetrek wat skuins na middernag sowat 17 ton mielies op die plaas Palmietkuil van Hans en Hendrik Meyer gesteel het.
Tot met dié mees onlangse geval was die diewe net daarop toegespits om gestroopte oeste te steel, maar Saterdagoggend het hulle met vuurwapens op die plaasbestuurder, André van Rooyen se huis toegeslaan.
Die Meyers het tot laat die Vrydagaand mielies gestroop en die volgelaaide vragmotors by André se huis laat staan tot dit die volgende dag na die silos geneem kan word.
’n Plaaswerker, Joshua, is erngstig gewond toe hy die diewe betrap het.
Dié voorval word nou as ’n plaasaanval ondersoek.
Die bende het ’n vrag mielies oorgelaai na hul eie trok toe Joshua op hulle afgekom het.
Die diewe het glo geskrik en het met die mielies wat hulle in staat was om oor te laai en nog ’n vragmotor vol mielies gevlug.
“Die plaasgemeenskap staan maar bymekaar teen misdaad.
“Binne minute na die aanval was ’n groep van ons op die aanvallers se spoor,” het Hans Meyer vertel.
“Ons het hulle voor Early Bird in Standerton vasgetrek.
“My vrag mielies is tans nog by die polisiestasie as bewys,” het Hans Maandag aan Die Bulletin gesê.
“Dis ’n reuse deurbraak in wat ons vermoed die werk van ’n sindikaat is.”
’n Soortgelyke bende het ook omstreeks dieselfde tyd Saterdagoggend op ’n plaas tussen Morgenzon en Ermelo toegeslaan.
Ook hier is ’n paar verdagtes vasgetrek – glo eers ná ’n wilde skietery tussen die boere en die verdagtes.
Hans en André meen hierdie soort misdaad raak ’n tendens in die gebied.
“Die laaste twee maande het verskeie boere – van Ermelo tot by Delmas- onder diewe deurgeloop.
“Sommige boere is al meer as twee keer geteiken.”
’n Ton mielies haal gemaklik ’n prys van sowat R3 600 en soyabone kos sowat R7 500 per ton.
Hans skat die waarde van die oeste mielies en bone wat in die tydperk in hierdie omgewing gesteel is, is bykans R1 miljoen.
Dan is daar nog die vragte vol saad wat uit ’n buurman se popstal gesteel is.
“Tussen al die veediefstalle, die diefstal van saad en oeste, end an nog plaasaanvalle, slaap ons bitter min.
“Ja, elke boer se verlies is groot, maar gesamentlik raak dit ook die land se voedselsekerheid.”
Die nege mans wat in Standerton vasgetrek is, het Maandag vlugtig in die hof verskyn.
Die polisie-ondersoek duur voort. – Arisja Misselhorn.

Dis oestyd op Hans Meyer se plaas.
Dis oestyd op Hans Meyer se plaas.

 

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here