Sophie reik uit na ander

0
957
Sophie Grobbelaar met haar twee African Grey-papegaaie.

Sophie Grobbelaar (73) woon al 39 jaar op Secunda en het al ’n harde pad gestap, maar sy bly vashou aan God.
“As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?,” het sy aangehaal vanuit Job 2:10.
Sy is in 2006 met borskanker gediagnoseer en het toe ’n dubbele mastektomie ondergaan.
Sy is nou al vir 10 jaar skoon van kanker.
“Ek het besluit om by Kansa betrokke te raak en ander by te staan ná ek met kanker gediagnoseer is,” het sy vertel.
“Ek weet wat kankerpasiënte deurmaak, want ek was ook daar.”
Sy het al gewonder hoekom die Here haar op dié paadjie geneem het.
“Ek sê nie die Here het my kanker gegee nie, maar Hy gebruik mens op die pad wat jy stap.
“’n Mens se hele lewe is ’n wedloop en ek wil diensbaar wees soos ’n goeie atleet op die pad wat ek stap en vir ander iets beteken,” het sy gesê.
Haar man, Arnold Grobbelaar, is in 2009 in haar arms dood.
Hy het vyf weke voor sy dood ’n dubbele hartomleiding en hartklepvervanging gehad.
Sophie het hom hospitaal toe geneem ná hy ’n hartaanval gekry en by die huis inmekaar gesak het.
Hy was vir twee weke in ’n koma voor die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, afgeskakel is.
“Ek het oppad hospitaal toe die Here gesmeek om asseblief net my man te spaar, maar in die twee weke wat hy in die koma was, het die Here vir my gevra of ek hom so wou hê en ek het toe gesê: ‘nee Here, nie so nie’.
“Die dokter het toe gevra of ek die papiere wil teken om die masjiene te laat afskakel en ek het toe.
“Ek glo die Here het hom gespaar vir twee weke sodat my kinders kon afskeid neem.”
Sophie se dogter, Elize Abbott, is in 2010, ook aan ’n hartaanval dood.
Inwoners sal haar onthou as mede-eienaar van die boetiek Twins, wat destyds by Lake Umuzi was.
Elize se tweeling-sussie, Marlene Coertzen, was die mede-eienaar van dié boetiek.
Sophie het vyf kleinkinders en is aktief en doen elke Saterdag die 5km-Parkrun.
“Mense kan gerus hul tekkies aantrek en saam kom stap, dis goeie oefening vir liggaam en siel,” het sy gesê.
Sy is by die onkologie-eenheid by die hospitaal betrokke en staan gereeld kankerpasiënte by.
Sophie het graag gaan stap saam met haar gesin destryds die hoogtepunt vir haar was die Neijmegan Staptoer in Nederland wat oor vier dae strek waarin stappers 160km stap.
“Leef jou reis en vind vreugde envred by God en die beloftes in Sy Woord,” het sy gesê.

Sophie Grobbelaar met haar twee African Grey-papegaaie.
Sophie Grobbelaar met haar twee African Grey-papegaaie.

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here