Musiek is Geldah se passie

0
813
Geldah Simich agter die klavier.

Geldah Simich sing en speel al klavier vir so lank as wat sy kan onthou.
Sy was agt jaar oud toe sy met klavierlesse begin het en op hoërskool het sy en haar broer wat ’n jaar ouer as sy is, ’n orkes begin.
Hulle het elke naweek saam musiek gemaak en in die middae na skool geoefen.
Hoewel musiek ’n groot liefde in Geldah se lewe is, is Jesus haar grootste liefde en haar groot passie.
Jy sal haar daagliks agter haar klavier kry waar sy die Here aanbid met haar sang.
Geldah het in die N.G. Kerk grootgeword en sy sê sy was nog altyd lief vir die Here, maar het in 1983 tot bekering gekom.
“Ek was oppad N.G. Kerk toe een Sondagaand, en toe het my motor gaan staan voor die Assembly of God-Kerk,” het sy gesê.
“Ek is toe in by dié kerk in en dit het die hele diens deur gevoel of ek op vlamme sit.
“Die pastoor het mense vorentoe genooi vir gebed en ek was eerste voor, dit het gevoel of ek in vlamme staan.
“Dit wat ek daar gevoel het, kan ek nie beskryf nie, maar ek het daar my hart vir die Here gegee.”
Sy het kort ná haar bekering in die kerk begin musiek speel.
Geldah het in die Kaap grootgeword en woon al die afgelope 27 jaar op Secunda.
Haar musiekvingers was vir lank stil ná sy hierheen verhuis het, maar 17 jaar gelede het sy weer musiek begin maak.
Sy het in verskeie kerke op Secunda die lofprysing en aanbidding gelei, maar bedien nou vrylik waar die Here haar wil gebruik en waarheen Hy haar stuur.
Sy is ’n gekwalifiseerde pastoor en preek soms saam met haar musiekbediening.
“Ek gebruik my gawes om God te verheerlik,” het sy gesê.
Sy is ’n vrou van vele talente.
Buiten haar musiekbediening het sy vir jare by verskeie ondernemings gewerk en algemene kantoorwerk gedoen.
Sy het ook op ’n stadium spyseniering gedoen en is lief vir bak en kosmaak.
Geldah het vir jare lank koekies gebak, verkoop en aan skole en verskeie ondernemings voorsien.
Sy het destyds, toe sy ophou bak het, haar resepte aan die Kristopher Ryan-sentrum gegee.
Sy geniet dit om naaldwerk te doen en maak haar eie klere en doen haar eie binnenshuise versiering.
“Ek hou van materiaal en sal soms net in ’n winkel instap en aan die materiaal ruik,” het sy gesê.
Sy het twee naaldwerk-ondernemings besit, maar deesdae geniet sy dit om laslappiekomberse te maak.
“Die Here het my die mooiste openbaring oor die laslappiekomberse gegee,” het sy gesê.
“Die hele kombers word van oorskiet-lappies gemaak en die Here het my gewys elke stukkie lap is soos die flenters van ons lewens wat deur God aanmekaar gesit word om iets moois van maak.”
Sy doen ook berading en glo die Here gebruik haar om mense te help om die sukkies van hul lewens weer bymekaar te sit. – Jana Oosthuizen.

Geldah Simich agter die klavier.
Geldah Simich agter die klavier.
Geldah Simich met een van die laslappiekomberse wat sy gemaak het.
Geldah Simich met een van die laslappiekomberse wat sy gemaak het.