Boere stuur nóg voer

0
1086

Honderde bale vanuit Bethal en omgewing het sedert Februarie vee in droogte-geteisterde gebiede in Suid-Afrika gevoed.
Drie vragmotors vol bale het Dinsdag, 14 Junie, na Brandfort in die Vrystaat vertrek om bale daar, en ook in dele van die Oos-Kaap af te lewer.
Plaaslike boere het Woensdag (15 Junie) nóg twee vragmotors volgemaak om na boere in nood te stuur.
Dié besending bring die aantal bale wat reeds deur weldoeners in landboudistrikte rondom Bethal geskenk is, op 700 te staan.
Boere in Nood het al 960 boere gehelp.
In geldwaarde kan daar gemaklik gepraat word van meer as R300 000 se voer.
Die plaaslike boere van die Bethal-omgewing het vroeër vanjaar na boere in nood begin uitreik en het ook by die groep ingeskakel wat die Facebook-blad, Boere in Nood, begin het.
Hennie Bekker wat dié projek op Bethal organiseer, was só geraak deur fotos van uitgeteerde diere wat op ’n streep vrek weens die erge droogte, dat hy genoop was om te help.
“Dít het my gemotiveer om die bale-projek te begin,” het hy verduidelik.
“Ek was so vier weke gelede in die Vrystaat en dit lyk sleg.
“Van die boere daar het niks geplant nie en sommiges het niks geoes nie.”
Volvo SA het die vragmotors geborg waarwee die bale aangery word vir die totale tydperk van die droogte.
Boere wat wil help of enige iemand wat ’n bydrae wil lewer, kan Hennie skakel by 084 905 6415.
Donasies kan ook in Boere in Nood se rekening inbetaal word by Eerste nasionale Bank. Bethlehem-tak.
Rek.nr: 626 1458 0084.
Takkode: 250655.

Bale projek1 Bale projek2 Bale projek3 Bale projek4 Bale projek5 Bale projek6

LEAVE A REPLY

Please enter your comment!
Please enter your name here